Juno-tuig amper by Jupiter

'n Illustrasie van Juno naby Jupiter (Foto: Nasa)

‘n Illustrasie van Juno naby Jupiter (Foto: Nasa)

Nasa het vandeesweek gesê dié ruimte-agentskap verwag dat sy Juno-tuig op 4 Julie by Jupiter sal aankom nadat dit in 2011 gelanseer is en 2,8 miljard kilometer afgelê het.

Die reis van vyf jaar was egter nie ononderbroke nie aangesien die tuig in Oktober 2013 terug op aarde was om deur die slingervelmetode genoeg spoed op te bou om Jupiter te haal.

Juno sal net 4 600 km bokant Jupiter se oppervlak om die planeet wentel, baie nader as die honderde duisende kilometer toe die tuig Galileo Jupiter en sy mane van 1995 tot 2003 besoek het.

Juno sal egter intense bestraling moet “oorleef” omdat dit baie na aan die magneetveld van die planeet sal kom. Daar word beraam dat die tuig nie veel langer as sy beplande 20 maande sal oorleef nie.

Juno is egter gepantser met ’n spesiale bestralingsgeharde materiaal wat veral sy rekenaar teen bestraling sal beskerm. Die tuig se wentelbaan sal oor die pole strek en ’n gevorderde wyehoekkamera sal na verwagting vir skouspelagtige beelde sorg.

Dr. Scott Bolton, hoofnavorser van die Suidwes-navorsingsinstituut in San Antonio, sê Nasa hoop dié tuig sal waardevolle data vorendag kan bring. “Ons is nie op soek na moeilikheid nie, maar die soort data waarna ons soek verg dat die tuig in moeilike dele moet ingaan wat maklik moeilikheid kan veroorsaak.”

Juno gaan onder meer die komposisie, gravitasie en magnetiese veld van Jupiter bestudeer, en ook soek na leidrade vir die vorming van die planeet en die bron van die planeet se onstuimige winde, wat ʼn spoed van tot 618 km/h kan haal.

Die tuig gaan ook kleurfoto’s neem deur middel van sy JunoCam-kamera.

Juno vervoer ook “passasiers” – iets wat ongewoon is vir ʼn sogenaamde “robot”-ruimtesending. Die passasiers is drie Lego-voorstellings van die Italiaanse sterrekundige en wetenskaplike Galileo Galilei, die Romeinse god Jupiter en die godin Juno.

Die krag vir die tuig word voorsien deur drie sonkragpanele, elkeen 8,8 meter lank.

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

cobusp ·

As dit nie was vir al die spoed beperkings nie was die tuig seker al lankal daar.

Johan 2 ·

Dankie vir die artikel, verdere terugvoer sal lekker wees.

Veritas ·

Gelukkig is ek te dom om te kan verstaan wat die doel van dié sending nou eintlik kan wees. Al wat ek hieruit kan aflei is dat daar ‘n taamlike fris briesie waai en dat my ou bakkie dit heel moontlik nie tot daar sal maak nie. Verder klink dit vir my net na nog ‘n manier om die kuns van rommelstrooiing te vervolmaak.

neelsie ·

Veritas,
Stem saam, dit lyk indrukwekkend maar watter betekenis het dit vir die verbetering van ons aardbewoners se welstand?
Kan iemand se nuuskierigheid so groot wees?

Hendrik ·

Die ontwikkeling van tegnologie wat voorspruit uit sulke sendings spoel terug na die algemene man op straat. Dink maar aan Velcro. Dit is nie ondek in Afrika nie maar wel ontwikkel vir die gebruik in ruimtestasies. Kommunikasie, metale, ens… As jy nie die geld gebruik nie word dit gemors.

Dink bietjie... ·

Ons sou bitter min van die tegnologie soos bv kompers en alles wat daarmee gepaard gaan gehad het as dit nie vir die ruimteprogramme was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.