Kyk vanmiddag hoe tuig op Mars land

Sciaperelli Grafika: ESA/ATG medialab

Sciaperelli Grafika: ESA/ATG medialab

Om 15:00 vandag kan Suid-Afrikaners op die internet kyk hoe ’n landingstuig van die Europese Ruimte-agentskap, in samewerking met die Russiese Ruimte-agentskap, op Mars land.

Die tuig, die Schiaparelli, verkry sy krag van sy eie batterye en sal hoogstens sewe Marsdae aktief wees. ’n Marsdag is ʼn paar minute langer as ’n dag op Aarde. Die tuig, van meer as 700 kg, sal tydens die sewe dae heelwat wetenskaplike navorsing doen.

Schiaparelli is Sondag losgemaak van die moederskip, die ExoMars, wat in ’n wentelbaan om die planeet sal gaan, en veral na tekens van metaangas op Mars se oppervlak soek. Metaangas kan die produk van geologiese prosesse of van lewe wees.

Schiaparelli is in hoofsaak ’n eksperimentele tuig wat ’n landingsmetode moet beproef wat die Europese Ruimte-agentskap wil inspan om die ware Jakob in 2020 na Mars te stuur. Die werklike tuig sal onder meer oor ’n Marsvoertuig beskik, en gate van tot twee meter diep kan boor. Die landingsmetode behels dat die tuig binne ses sekondes nadat dit die atmosfeer tref, op die grond sal wees. Dit sal aanvanklik met die hulp van ’n hitteskerm deur die atmosfeer gerem word, waarna ’n valskerm ontplooi sal word. Ná die valskerm afgeskud is, sal die tuig se eie vuurpyle die val na die grond rem, tot twee meter bo die grond. Die laaste twee meter se vryval word versag deur ’n spesiale kussinglaag in die tuig self.

Lees meer: Space.com en Rocket Science Blog

Volg die Europese Ruimte-agentskap op Facebook vir regstreekse inligting
Volg die landing regstreeks op LiveStream as jy nie die volgende video kan sien nie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wicus ·

Dankie vir hierdie nuus Herman, hou asb aan daarmee, dit bly opwindend!

Johan 2 ·

Eks bly om te sien NASA raak nou moeg toilette ontwerp en pak weer n “nuwe” missie aan…is daardie landingsmetode nie reeds getoets met die curiosity tuig met sy “sky crane” nie? Space X en die Sjinese neem nou die voortou blyk dit.

Victor ·

Dis ESA, nie NASA nie. En nie SpaceX of die sjinese het al ‘n tuig op Mars geland nie.

Cobus de Klerk ·

Hi Hermann, dis lekker om dié soort van “Space” /Ruimte inligting te kry.
Bly aan stuur… Ek’s mal oor alle ruite tegnologie ontwikkling en die ontdekking van nuwe solar sisteme en planete. Die ruimte tegnologie ontwikkel nou verskriklik vining..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.