Mars se naaste maan was eens heelwat groter

Foto: ‘n Kunstenaarsvoorstelling van die verbyvlug.

Terwyl wetenskaplikes nog kopkrap oor hoe Mars aan sy twee maantjies, Phobos en Deimos, gekom het, het wetenskaplikes van die universiteit van Purdue in die VSA ’n model ontwikkel wat met ’n gans ander voorstelling vorendag kom.

Volgens dié model is Phobos, die naaste en grootste van die mane, sowat 4,3 miljard gelede gevorm nadat ’n groot ruimtevoorwerp Mars getref en ’n groot hoeveelheid Mars-materiaal die ruimte ingeskiet het.

Die materiaal het eers as ringe om Mars beweeg, voordat dit saamgetrek het om Phobos te vorm. Phobos is later deur swaartekrag nader aan Mars getrek, en deur gravitasiekragte uitmekaar gepluk sodat die ringe weer gevorm het. ’n Maantjie vyf keer kleiner as die vorige, word dan gevorm.

Dié proses kon hom al tussen drie tot sewe keer herhaal het, met die nuwe maantjie wat dan elke keer veel kleiner as die vorige een is. Die ander ruimterommel sou op Mars geval het, en kan sekere verskynsels op die oppervlak, wat nou nog onverklaarbaar is, wel verklaar.

Phobos beweeg al nader aan Mars en wentel op ’n hoogte van net 6 000 km bo die oppervlak. Na raming sal dit oor 50 miljoen jaar op Mars neerstort, of andersins opbreek.

Hoewel aansienlik groter as Deimos is Phobos klein, en meet 27 by 22 by 18 km in deursnee. Dié maan is nié rond nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Ruimte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae