Meteoriete bring insigte én vrae

Argieffoto

Drie meteoriete het pas die nuus gehaal oor hul uniekheid en die grondige studies wat daarop gedoen is. By een van die meteoriete was ’n span Suid-Afrikaners betrokke.

Die Hypatia is naby Alexandria in Egipte gevind, en prof. Jan Kramers en sy span van die Universiteit van Johannesburg is al ’n aantal jare by die bestudering van dié unieke steen betrokke. Hulle het reeds in 2013 bevestig dat die steen beslis nie van die aarde afkomstig is nie.

Gevorderde studies op die steen het aan die lig gebring dat die chemiese samestelling elemente bevat wat nie op aarde of in enige ander meteoriet of komeet gevind is nie. Die unieke minerale moes in bitter koue toestande gevorm het wat verder van die son is as die meteorietgordel tussen Mars en Jupiter. Dit bevat ook talle bitter klein diamantjies wat waarskynlik gevorm het toe ’n groter steen die aarde getref het, en met ’n skok-effek in kleiner stukkies in die atmosfeer opgebreek het.

Die ander twee meteoriete het in 1998 op die aarde geval – die een in Texas in die VSA en die ander maande later in Marokko. Hulle het geblyk heelwat ooreenkomste te hê, maar wat ook uniek onder meteoriete en komete blyk te wees. Nuwe studies het getoon dat hulle van ’n waterryke, bevrore wêreld moet kom, maar – selfs meer uniek – dat dit oor alle organiese elemente vir die vorming van lewe beskik. In teorie kon hierdie meteoriete, en ander soos hulle, miljoene jare deur die sonnestelsel beweeg en die “saad” van lewe op lewensvatbare planete soos die aarde saai, waar meer komplekse lewe dan kon ontwikkel.

Die wetenskaplikes meen die water en organiese materiaal op die stene kon van Saturnus se maan, Enceladus, af kom, of van antieke oseane van die dwergplaneet, Ceres. Enceladus voer steeds pluime water die ruimte in.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Ruimte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eish ·

Ek wonder wat is insigte en wat is vrae. Die meteoriete wat ” saad” plant vir evolusie aangesien dit alle organiese material vir lewe bevat laat by my meer vrae as insigte. Ek wonder hoekom het ons nog nooit so n spontane ontwikkeling van lewe waargeneem op aarde die laaste 6000 jaar nie! Alle organiese materiaal is hier te vind sowel as die ideale omstandighede. Die insig is dat die Skepper van lewe ontbreek. Ek dink eerlikwaar die kans dat n ontploffing in n skrootwerf tot gevolg kan hê dat die nuutste model BMW presies reg inmekaarval , en instaat is om homself te reproduseer jaar na jaar,is groter.

Skepties ·

Ek stem saam met jou eish!Die probleem waarmee evolusioniste sit is tyd.Daar is nie genoeg nie.Die 4,5biljoen jaar wat hul glo die aarde oud is ,is vêr te min tyd vir evolusie.Dit is soos om te sê Rome is gebou in 2,3 sekondes.Die gebrek aan tyd noop hulle om te postuleer dat volledige organismes met komete hierheen gekom het.

Meer as Skepties ·

Maak nie saak hoe evolusioniste dit wil verduidelik nie. Die “saad” wat hulle graag wil inspan om hulle uit hul verknorsing te help is onderhewig aan dieselfde “nie genoeg tyd-probleem”. Die “saad” moes êrens anders spontaan ontstaan het…binne hulle daargestelde tydskaal. Soos wat die mens se kennis toeneem is daar meer en meer wetenskaplikes wat deur die wetenskap oortuig word dat alles nie spontaan kon ontstaan nie. Bygesê…die wat oop is vir oortuiging.

Tess ·

Dit bly interesant om te sien hoe gelukkige sommige mense is, om met sulke dinge te werk en nog daarvoor betaal te word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.