Navorsers ondersoek nuwe Afrika-meteoriet

ʼn Fragment van die meteoriet wat op 27 Julie in Madagaskar geval het. Die plekke wat soos duimafdrukke lyk, het gevorm toe die meteoriet gesmelt het toe dit deur die atmosfeer gekom het. Die klein bulte is korrels nikkel-yster-allooi. Foto: Wits

ʼn Meteoriet wat dateer uit die ontstaan van die sonnestelsel, 4,56 miljard jaar gelede, het kort voor die langste algehele maansverduistering van die 21ste eeu in Madagaskar geval.

Fragmente van dié meteoriet, wat selfs ʼn baie klein seismiese trilling veroorsaak het, het by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se Skool vir Geowetenskappe beland. Tim Marais, wat op 27 Julie in Madagaskar gereis het, het ʼn paar dae ná die meteoriet naby die klein dorpie Benenitra geval het daarvan te hore gekom.

Stukkies rots het op die gebied gereën, nadat inwoners die helder vuurbal gesien en toe ʼn ontploffing gehoor het. Niemand is beseer nie. Marais het van die fragmente bekom en dit aan prof. Roger Gibson en Lewis Ashwal by Wits geneem.

ʼn Dun skyfie is vir mikroskopiese analise voorberei en daar is gesien dit is ʼn chondriet. Dit is so genoem na die klein korreltjies minerale daarin. Om te bevestig dat dit wel gebeur het, het hulle ander kenners geraadpleeg – dit was inderdaad so. ʼn Ontploffing in die boonste dele van die atmosfeer is om 17:16 dié aand bespeur.

Prof. Roger Gibson (links), prof. Lewis Ashwal (regs) en Tim Marais wat vir hulle vertel het van die meteoriet wat in Madagaskar geval het op 27 Julie, kort voor die maansverduistering. Marais het in die gebied gereis en kon van die fragmente versamel, asook van die ooggetuies se verslae. Foto: Wits

Daar was ook ʼn baie ligte seismiese trilling in die gebied. Die meteoriet, volgens Wits, het yster in asook herkenbare chondrules. Dit is die oorspronklike boublokke van rotsagtige liggame soos sekere planete en asteroïede. Soos die liggame groter geword het, bou hitte op – deels weens radioaktiewe elemente en omdat dit weens gravitasie ineenstort.

Die metale en chondrules herkristalliseer en kan selfs smelt. Indien die temperatuur hoog genoeg is, sal die digter materiaal na die kern neig. Die minder digter materiaal sal na die oppervlak styg. Uiteindelik koel dit af en word solied. Dié meteoriet het redelik warm geword, maar net gedeeltelik gesmelt, en van die chondrules het dus oorleef.

Die meteoriet het ook merke van ʼn skok daarop wat beteken dit het teen iets anders gebots, waarskynlik ʼn asteroïed. Die oorspronklike meteoriet sou gebreek het en ʼn stuk is in die rigting van die aarde geslinger. Dit is dié stuk wat deur die atmosfeer gedring het, voordat dit ontplof het.

Gibson het gesê ʼn meteoriet is die arm man se ruimterobot omdat hulle ruimterotse gratis by jou deur aflewer, en ʼn mens die geboorte en geskiedenis van ander dele van die sonnestelsel kan bestudeer.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Interesant. Goed dat Tim dit beskikbaar gemaak het. Nogal baie werd om en by 1Usd per gram. (Meteorite hunters gesien n paar jaar gelede op tv)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.