Navorsing het glo antwoord op Bybelverwysing van son wat ‘stilstaan’

Die son (Foto: Pixabay)

Wetenskaplikes meen hulle verstaan nou die Bybelse verwysing in Josua 10: 12 wat onder meer verwys na die son en die maan wat “stilstaan”.

Dié vers in die Bybel lui: “Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!

“Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ‘n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie.”

Wetenskaplikes het nou tot die gevolgtrekking gekom dat die oorspronklike Hebreeus kan beteken dat die son en maan opgehou het om te doen wat hulle gewoonlik doen – naamlik skyn.

Volgens dié navorsing beteken dit dat die Bybel die oudste behoorlike opgetekende rekord van ’n sonsverduistering verskaf.

Tydens die navorsing het wetenskaplikes van die Universiteit van Cambridge ’n model ontwerp om afwykings in die aarde se baanvlak oor ’n lang tyd te verreken, en tot die gevolgtrekking gekom dat die gebeurtenis op 30 Oktober 1207 voor Christus moes plaasgevind het.

Dié datum klop weer met ’n inskrywing op die Merneptah-stela. Merneptah was ’n Egiptiese farao wat van 1213 tot 1203 voor Christus regeer het. Op die Merneptah-stela is ’n verwysing wat baie glo verwys na toe Israel in Kanaän was, wat toe deel van die Egiptiese ryk was.

Deur die sonsverduistering akkuraat te bepaal, en ander verwysings daarna te vergelyk, kan die regeertye van verskeie Egiptiese heersers veel meer akkuraat bepaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PeterV ·

Die regses lei wittes in n val. Daar sal eenvoudig regstellings moet kom oor die apartheids-vergrype, hoe gouer hoe beter, om te dink die swart bewussyn gaan dit vergeet, is wensdenkery

PeterV ·

Die regses lei wittes in n valstrik. Daar sal eenvoudig regstellings moet kom oor die apartheids-vergrype, hoe gouer hoe beter, om te dink die swart bewussyn gaan dit vergeet, is wensdenkery

SkarrelKind ·

Dit maak meer sin. Want as die die aarde skielik op sy as gestop het, was ons vandag nie hier nie. Alles sou plat gevee gewees het. Berge sou moontlik bly staan het, maar alles op die vaste lande sou weg gewees het. En nerens is daar enige navorsing wat bewys dat die aarde gedurende daardie tydperk sulke trauma beleef het nie. Mense het dalk nie geweet wat ‘n verduistering was nie en die is moontlik ‘n antwoord daarop. Interessant dankie.

Anele Ernst ·

God het na die tyd gesê Hy sal dit nooit weer doen nie Daarom kan dit nie n sonsverduistering wees nie

Johan Neuteman ·

Wetenskaplikes (mense) “meen” baie dinge. Die Bybel sê die son het stilgestaan, en die geskiedenis waaroor dit daar gaan, wys duidelik dat dit vir die noodsaak vir langer ligdag was om die veldslag te kon voltooi. ‘n Sonsverduistering maak nie sin in hierdie saak nie. Hoekom nou lol met iets wat eenvoudig daar staan soos dit was en soos die feite is? God het hemel en aarde geskape, sou iets Hom dan verhoed om die sonnestelsel se wenteling te verander soos en wanneer dit Hom behaag?

Veritas ·

Die Bybel praat nie van ‘n donker dag nie. As dit ‘n sonsverduistering was, sou daar moontlik geskryf gestaan het dat die son donker was of iets soortgelyks. Die Bybel noem pertinent dat die son stil gestaan het. Byna ‘n hele dag lank. Waar en wanneer het ‘n sonsverduistering byna ‘n hele dag lank geduur. Dié sogenaamde ‘wetenskaplikes’ sal enige metode inspan om die Bybel verkeerd te probeer bewys maar brand elke keer hulle vingers met hul ondeurdagte bevindings.

Andrea ·

Maak dit werklik saak wat presies gebeur het? God het dit laat gebeur; Hy is die Skepper van die heelal, van al die fisiese wette van die natuur, daarom het Hy gesag daaroor. Ek glo God gebruik die wette en magte wat Hy geskape het soos Hy dit goeddunk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.