New Horizons weer ‘wakker’

New Horizons (Foto: Nasa)

New Horizons, die Nasatuig wat Pluto en sy mane verken het en daarna in ʼn “winterslaap” geplaas is, is weer uit dié winterslaap.

Die webwerf Astronomy berig dié tuig is net tydelik uit die winterslaap “wakker gemaak” sodat die instrumente getoets kan word. New Horizons sal op 22 Desember weer in hibernasie geplaas word, en dan drie maande voor dit sy volgende bestemming bereik, weer wakker gemaak word.

Dit volg nadat die tuig op 7 April in ʼn winterslaap geplaas is om “krag te spaar” terwyl hy besig is met sy Nasa-missie. Verskeie tuie word in so ʼn winterslaap geplaas omdat dit die bedryfskoste van die missie verminder. Die slytasie van instrumentasie en rekenaarstelsels aan boord word sodoende ook drasties verminder.

New Horizons het voor dié winterslaap op 7 April sonder enige onderbrekings aan die Nasa-missie gewerk. New Horizons is onderweg na ’n voorwerp in die Kuipergordel, bekend as 2014 MU69. Hy sal sy volgende bestemming op Nuwejaarsdag 2019 bereik. Daar sal eers dan vasgestel kan word of 2014 MU69 ’n enkele voorwerp is, of twee voorwerpe wat om mekaar wentel.

2014 MU69 is 6,5 miljard kilometer van die aarde af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.