Opblaasbare kamer vir ruimtevaarders

Skermskoot uit NASA TV: die SpaceX Dragon-vragtuig nader die Internasionale Ruimtestasie (Sondag 10 April 2016) Foto: NASA TV via AP

Skermskoot uit NASA TV: die SpaceX Dragon-vragtuig nader die Internasionale Ruimtestasie (Sondag 10 April 2016) Foto: NASA TV via AP

SpaceX se vragtuig het Sondag die wêreld se eerste opblaasbare kamer vir ruimtevaarders by die Internasionale Ruimtestasie afgelewer – twee dae nadat dit vanaf Cape Canaveral gelanseer is.

Ruimtevaarders op die ruimtestasie, 400 km bo die aarde, het ʼn robot-arm gebruik om die Dragon-vragtuig te “vang”. Die Dragon het 3 175 kg vrag vervoer, insluitend die kompartement wat deur Bigelow Aerospace gebou is. Die kamer is baie styf verpak vir die reis na die ruimtestasie, maar dit sal so groot soos ʼn klein slaapkamer wees wanneer dit volgende maand vol lug gepomp word.

Die kamer word komende Saterdag aan die ruimtestasie vasgeheg, maar sal eers teen die einde van Mei vol lug gepomp word. Dié tegnologie kan die manier waarop ruimtevaarders in die ruimte woon, verander. Nasa voorsien opblaasbare habitatspasies binne ʼn paar dekades op Mars.

Die ruimtevaarders sal aanvanklik nie die “Bigelow Expandable Activiy Module” (BEAM) gebruik nie. Nasa wil eers bepaal hoe goed die kamer werk, en dit sal dus afgeseël bly. Ruimtevaarders sal ʼn paar keer per jaar in die kamer ingaan om metings te doen en sensors om te ruil.

Die is SpaceX se eerste aflewering in ʼn jaar vir Nasa. Verskepings is opgeskort ná ʼn ongeluk in Junie 2015.

“Dit lyk of ons ʼn Dragon gevang het,” het die Britse ruimtevaarder, Timothy Peake, geskerts nadat hy die tuig gegryp het. “Almal glimlag hier,” het Nasa se beheerkamer reageer. “Baie geluk met die vangs van daardie Dragon.”

SpaceX is steeds verheug oor hul sukses nadat hulle die hoofaanjaervuurpyl Falcon 9 ná die lansering op ʼn platform in die see kon land. Klik hier om meer te lees.

Die voormalige Suid-Afrikaner, Elon Musk, SpaceX se uitvoerende hoof, wil vuurpyle herwin om geld te spaar. Sy ambisie is om ʼn stad op Mars te bou. Nasa beplan om in die 2030’s die eerste ruimtevaarders na Mars te stuur.

Lees meer: SpaceX, NASA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KLEIN ·

Waar kry hulle die lug vandaan om dit in die kamer te pomp. Daar is dan niks buite ons atmosfeer nie.

Paul ·

Ummmm, daar is lug binne-in die ruimtestasie… Daar woon mense daarbinne, so hulle moet iets hê om in te asem. Hulle neem dit saam in saamgeperste vorm, soos ‘n duiker se gasbottels.
Daar is ook gesofistikeerde stelsels om die lug te hersirkuleer en seker te maak daar bou nie te veel CO2 op nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.