Pluto-Aprilgekstorie toe amper waar

Pluto van naderby beskou Foto: NASA

’n Aprilgekstorie op Futerenet.com dat Pluto weer as planeet erken word, was nader aan die waarheid as wat baie mense besef.

Hoewel die storie 1 April gedateer is, en Planeet X as een van die son se bestaande planete gelys is, het talle mense die storie oor Pluto se nuwe status vir soetkoek opgeëet. Sommiges het selfs ergerlik gereageer dat die wetenskaplikes nou finaal moet begin besluit of Pluto ’n planeet is of nie.

So onlangs soos einde Maart is daar nog opnuut voorgestel dat Pluto tot planeet geherklassifiseer word.

Die voorstel is gemaak gedurende die 48ste Lunar and Planetary Science Conference wat in Woodlands, Texas, gehou is. Aanvanklik is geglo dit was wetenskaplikes van Nasa se New Horizonsspan, onder leiding van Alan Stern, wat dit voorgestel het.

Uit die berigte blyk dit egter dat die voorstel gemaak is deur Kirby Runyon, ’n PhD-student van die John Hopkins-universiteit. Pluto is as planeet tot dwergplaneet geherklassifiseer omdat ’n nuwe definisie van ’n planeet bepaal dat die betrokke hemelliggaam die omgewing van sy baan om die son voldoende van ander hemelliggame moet skoonmaak.

Die definisie benadeel egter nie net vir Pluto nie – selfs die aarde sou waarskynlik gesukkel het om sy baan voldoende skoon te hou as dit in die Kuiper-gordel was.

Boonop is vasgestel dat daar, afgesien van die Trojaanse asteroïde wat voor en na Jupiter in dieselfde baan om die son trek, nog ’n asteroïed is wat ook in Jupiter se baan om die son reis, maar wel in die teenoorgestelde rigting.

Botsings word egter al vir minstens ’n miljoen jaar voorkom. Sowat 6 000 asteroïede deel Jupiter se kosmiese ruimte.

Die “verkeerdom”-asteroïed, wat kortweg BeeZee genoem word, is slegs een van 80 asteroïede uit ’n totaal van sowat ’n miljoen in ons sonnestelsel wat in die teenoorgestelde rigting om die son reis.

Bron: Register Herald

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.