SA kry óók algehele sonsverduistering

Nadat miljoene Amerikaners Maandag in verwondering was oor die eerste algehele sonsverduistering in dié land sedert 1979, het navorsers aangedui Suid-Afrika se beurt vir só ʼn verduistering kom in 2030.

Volgens Science News gaan Suid-Afrika op 25 November 2030 ook ʼn algehele sonsverduistering beleef.

Miljoene mense het Maandag hul teleskope, kameras en beskermende brille gegryp om verwonderd te kyk na die eerste algehele sonsverduistering wat in meer as ʼn eeu van die Oos- tot die Weskus in die VSA gesien kon word.

Die skadu wat die verduistering teweeggebring het, was tussen 96 km en 113 km wyd en het skuins oor die vasteland, van Oregon tot Suid-Carolina, gestrek, met ʼn donkerte wat tussen twee en drie minute op ʼn gegewe plek geduur het. Soveel as 200 miljoen mense was binne 24 uur per motor binne bereik van plekke waar daar totale donkerte sou wees en dorpe en parke was voorbereid vir skares wat hul opwagting gemaak het.

In Suid-Afrika gaan die 2030-sonsverduistering die Namibiese kus naby Swakopmund bereik, en dan suidooswaarts beweeg totdat dit Suid-Afrika naby Mahikeng gaan “binnekom”.

Volgens navorsers gaan die sonsverduistering daarna oor Sasolburg beweeg tot dit die land aan die kus tussen Durban en Richardsbaai gaan verlaat.

Dié sonsverduistering sal sowat 3 minute en 44 sekondes lank duur en die donker baan wat dit oor die land gaan gooi sal ongeveer 169 kilometer wyd wees.

Suid-Afrika kry wel ook op 14 Desember 2020 ’n totale sonsverduistering, maar dit loop teen die Weskus dood voordat dit behoorlik oor die land kan inbeweeg.

Science News berig Kaapstad en ander plekke in die suide van die land sal in 2031  ʼn deel van ʼn sonsverduistering kan sien wat oor Antarktika beweeg.

Die aarde, maan en son is elke een tot drie jaar perfek in lyn waartydens die dag vlugtig in nag verander op ʼn spesifieke plek op die planeet, maar hierdie besigtiging gebeur gewoonlik op plekke waar min mense dit kan sien, byvoorbeeld oor die Stille Oseaan. Maandag se sonsverduistering in die VSA was die eerste keer in die era van sosiale media dat ʼn sonsverduistering oor so ʼn digbevolkte plek voorgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

‘n Mens moet jou verstom aan die natuur. Saam met die skepping het tyd begin. Voor Omega’s op die mark gekom het, was die son en maan ons horlosies.
Al die sterre en planete is onlosmaaklik met mekaar verbind. As die maan se posisie sou verskil het van wat dit is, sou sonsverduistering nie gewerk het nie. Dit werk so akkuraat dat jare vantevore al presies vasgestel kan word hoelaat die son gaan opkom, al die stande van die maan, wanneer die volgende sonsverduistering sal wees. Miskien kan ons soms maar ‘n oomblikkie daarby stilstaan en ons afvra Wie dit alles so volmaak gemaak het.

Willem ·

Ek kyk net so verwondered na dit – ek vind dit nog meer indrukwekkend dat dit nie gemaak is deur iemand nie, dit is net daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.