SA se skitterende sterrekundegeskiedenis

Francois de Jager is tans die bestuurder van TUT se terrein en geriewe by Broederstroom. (Foto: Petronel Fourie.)

Suid-Afrika het ʼn uitsonderlike, maar grootliks onbekende, geskiedenis van astronomie wat oor meer as 100 jaar strek. Vyftig jaar gelede was daar drie wêreldgehalte sterrewagte in die noorde van die land en talle prominente sterrekundiges het hierheen gekom om die suidelike uitspansel te bestudeer. Hul waarnemings het verreikende gevolge gehad: die geskatte ouderdom van die aarde is verdubbel, maanlandings is beheer en Suid-Afrika het ʼn leier op die gebied van sterrekundige wetenskap geword.

De Jager by die Rockefeller-teleskoop soos dit vandag daar by die klein sterrewag se terrein by Broederstroom staan. (Foto: Petronel Fourie.)

Topgehalte teleskope kom na SA

In 1903, kort na die Anglo-Boereoorlog, is die Transvaalse Sterrewag (later die Unie-sterrewag) in Johannesburg gevestig – die eerste groot Suid-Afrikaanse sterrewag buite die Kaap. Die direkteur, Robert Innes, het ʼn werksverhouding met die Leidense Universiteit in Nederland gevestig wat langer as 70 jaar sou duur. ʼn Gebou vir die eksklusiewe gebruik van Leidse sterrekundiges is selfs in 1936 op die Unie-sterrewag se terrein gebou. Maar teen die 1950’s het die stadsligte te helder geword vir behoorlike waarneming en is ʼn nuwe terrein aan die suideroewer van die Hartbeespoortdam, naby Broederstroom, geïdentifiseer.

’n Klein sterrewag is in 1954 by Broederstroom opgerig en die eerste teleskoop wat daarheen geskuif is, was ʼn fotografiese lensteleskoop wat in 1909 deur John Franklyn-Adams aan die Unie-sterrewag geskenk is. Dié instrument het ʼn paar jaar vantevore wêreldwye aandag getrek toe Innes dit gebruik het om die ster wat naaste aan die Aarde is, Proxima Centuari, te ontdek. Proxima Centauri skyn baie dof en dit is net ontdek deur die mees gesofistikeerde fotografiese tegnologie van daardie tyd te gebruik. Die teleskoop het ook sy staal gewys deur “die beste foto’s ooit van Halley se Komeet” te neem, volgens die sterrekundige Patrick Moore.

Hoewel amptelik ʼn buitestasie van die Unie-sterrewag, is die Broederstroom-terrein outonoom deur die Leidense Universiteit bestuur onder Theodore Walraven, ʼn internasionaal gerekende sterrekundige. Die ses duim (15 cm) Franklyn-Adams-teleskoop is kort daarna opgevolg deur die Leidense Universiteit se eie 16 duim (40 cm) diameter Rockefeller-astrograaf. Die astrograaf het tweelingteleskope gebruik wat langs mekaar gemonteer is en merkwaardige foto’s kon neem. In 1957 is ʼn derde, selfs groter teleskoop van Nederland af gebring. Dit was ʼn outomatiese weerkaatser of “flux collecter”, ʼn kragtige instrument wat gebruik is om die lig van die sterre te meet en te ontleed deur die frekwensie van hul bestraling te analiseer.

In die laat 1960’s is besluit om Suid-Afrika se sterrekunde by Sutherland in die Karoo te sentraliseer en die Unie-sterrewag in Johannesburg is gesluit. Tog het Walraven en sy kollegas aangehou om onafhanklik by Broederstroom te werk totdat die Leidense Universiteit Suid-Afrika in 1976 verlaat het. Die terrein is aan die destydse Technikon Pretoria (vandag die Tshwane Universiteit vir Tegnologie) oorgedra en Toppieshoek herdoop. Die Franklyn-Adams- en Rockefeller-astrograwe is daar gelaat en staan steeds in onbruik in die ou sterrewaggeboue.

Die Radcliff-sterrewag by Waterkloofrif, Pretoria in 1970. (Foto: Patrick Moore/Verskaf.)

Suidelike Halfrond se grootste sterrewag

Intussen het die Oxford Universiteit in die 1930’s sy bekende Radcliffe-sterrewag na Pretoria geskuif. Die Radcliffe is in 1772 in Oxford opgerig, maar teen die 1930’s het ligbesoedeling en rookmis enige waarnemings onmoontlik gemaak. Die direkteur, Harold Knox-Shaw, besluit toe om die sterrewag na wat toe as die wetenskaplik progressiewe Unie van Suid-Afrika beskou is, te skuif.

Pretoria het ʼn terrein van 25 hektaar op Waterkloofrif vir die Radcliffe beskikbaar gestel, twee kilometer van Fort Klapperkop af, en die skuif het in 1935 begin. Met die opbrengs van die verkoop van die Oxford-terrein, het Knox-Shaw ʼn enorme nuwe 1,9 m diameter teleskoop bestel – toe die grootste in die suidelike halfrond. Vier jaar later is die sterrewaggebou met ʼn tegnologies gevorderde roterende lenstoring op die terrein opgerig, maar die twee ton optiese spieël was steeds in vervaardiging in die VSA.

Die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog het die proses vertraag en die groot teleskoop het eers in 1948 in Suid-Afrika aangekom. Die nuwe Radcliffe-sterrewag was tegnies baie gevorderd. Die teleskoop kon tussen optiese en spektografiese funksies wissel, die gebou was geïsoleer en die temperatuur beheer om heel jaar konstant te bly, en die meganisme wat die enorme teleskoop geleidelik geroteer het om die naglug te bespied, is presies deur die vibrasies van ʼn stemvurk gereguleer.

Toe Knox-Shaw in 1951 aftree, is David Thackeray as direkteur aangestel. Thackeray was ʼn briljante wetenskaplike en ʼn spesialis in spektroskopie wat sy opleiding by Eton en Cambridge ontvang het. Hy was ook vrygewig met sy kennis en altyd gereed om jong sterrekundiges te help wat die nuwe Radcliffe besoek het. Hy het noue bande met Walraven by Broederstroom gehandhaaf en hul families en vriende geword.

Onder Thackeray se leiding het die Radcliffe-sterrewag een van die wêreld se beste astrofisiese instellings geword. Daar is tale belangrike waarnemings gemaak, soos die ontdekking van wat nou Thackeray se Sfere genoem word – donker sterreswerms van gas. Danksy hierdie waarnemings kon hy aflei dat die heelal twee keer so oud is as wat voorheen geraam is.

Soos met die ander sterrewagte, het die ligte van die groeiende stad van Pretoria eindelik observasies bemoeilik en in 1972, presies 200 jaar na sy stigting, is die Radcliffe-sterrewag gesluit. Die enorme teleskoop is na Sutherland geskuif en Thackeray het die Radcliffe professor van sterrekunde by die Universiteit van Kaapstad geword. Ongelukkig is hy in 1978 in ʼn motorongeluk dood toe hy van ʼn besoek aan Sutherland teruggekeer het.

Die radioteleskoop by HartRAO. (Foto: Verskaf.)

Hartbeeshoek hou nou die heelal dop

Die Hartbeeshoek Radio-astronomie-sterrewag (nou HartRAO) is die derde van die groot astronomiese instellings van die noorde en die enigte wat steeds aktief is.

Die grootste van die HartRAO-radioteleskope is die 26 m-skottel wat in 1961 deur Nasa gebou is. Danksy die kromming van die aarde het ruimteverkenning vanaf Cape Canaveral (toe Cape Kennedy) vir ʼn paar kritieke minute ná lansering kontak met alle moniteringsposisie – buiten suider-Afrika – verloor. Nasa het daarom die Hartbeeshoek-opspoorstasie gebou om sateliete en ruimteverkenningstogte te volg en dit het ʼn uiters belangrike rol gespeel in die vroeë dae van ruimteverkenning. Die Apollo 15-maanlanding in 1971 is gedeeltelik vanaf Hartbeeshoek beheer en die eerste kleurfoto’s ooit van Mars is in 1969 vanaf die Mariner VI-missie ontvang.

In 1975 het Nasa die fasiliteit aan Suid-Afrika se WNNR oorgedra en dit is in ʼn radio-astronomie navorsingsterrewag omskep. Dit bly een van sy hooffunksies en nuwe tegnologie hou dit aan die voorpunt van astrofisika. Vandag monitor die radioteleskope by HartRAO bestraling van sterre in die diep ruimte en versamel data oor die dinamika van die heelal. Dit word ook vir aardmeetkundeprogramme gebruik, insluitend die studie van die presiese afmetings van die aarde, die beweging van tektoniese plate en kontinentale skuiwing, en variasies in die afstand tussen die aarde en die maan. Die meeste mense gebruik waarskynlik die seine van HartRAO vir die navigasietoepassings op jou foon of in jou voertuig. In die toekoms sal HartRAO by die Square Kilometre Array (SKA)-projek geïntegreer word,die enorme astronomiese projek wat in Australië en Suid-Afrika gesetel is.

In hierdie tye van lugbesoedeling en klimaatsverandering is dit maklik om te vergeet dat daar eens op ʼn tyd waarnemings van wêreldbelang in ons lugruim gemaak is. Suid-Afrika het inderdaad ʼn groot rol op die internasionale wetenskap-verhoog gespeel en lewer vandag steeds ʼn bydrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae