Belgiese astronome beplan ʼn baie spesiale huldeblyk aan die sanger David Bowie, wat onlangs gesterf het.
ʼn Konstellasie, met sewe verskillende sterre in die vorm van ʼn weerligstraal, word binnekort ter nagedagtenis van Bowie deur Studio Brussels en die MIRA-observatorium geregistreer. Volgens The Guardian is konstellasie in die omgewing van Mars geleë.
Aanhangers kan die webwerf, Stardust for Bowie, besoek en een van die talle sterre binne die konstellasie aan hul gunsteling- Bowie-liedjie verbind.
Daar is tans 88 amptelik geregistreerde konstellasies wat deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) goedgekeur is. Bowie se konstellasie is nie deel van die IAU-konstellasies nie.
Maroela Media het vroeër berig die Britse sanger en liedjieskrywer is op 10 Januarie, twee dae ná sy 69ste verjaarsdag en ná ʼn 18 maande lange stryd met kanker, oorlede.
Die kunstenaar het onder andere bekendheid verwerf met liedjies soos “Space Oddity” en “Under pressure” wat hy saam met Queen opgeneem het.
ʼn Petisie om Mars na Bowie te vernoem, het reeds die 6 000 handtekeninge-kerf verbygesteek.