Sterkste vuurpyl sedert maanlandings byna gereed

Die vuurpyl (Foto: Nasa)

Die Falcon Heavy, die sterkste vuurpyl sedert die Saturn-vuurpyle wat die Apollo-kapsule na die maan laat reis het, is byna gereed om dié maand nog gelanseer te word.

Dié vuurpyl lyk baie soos ’n graansuiser omdat dit in wese drie Falcon 9-vuurpyle is wat aanmekaar vasgesit is. Tot die toetsvrag is ongewoon – dit het Elon Musk, die eienaar van Space X, se eerste Tesla Roadster aan boord.

Die Falcon Heavy is nie net veronderstel om die VSA in staat te stel om weer bemande ruimtevlugte te onderneem nie, maar om mense na Mars te kan neem. Volgens ’n twiet van Musk sal sy Tesla nou vir ’n miljard jaar in ’n wentelbaan om Mars geplaas word.

Die Falcon Heavy kan ’n vrag van 54 ton die ruimte in dra. Dié krag word deur 27 enjins opgewek wat saam soveel krag oplewer as 18 Boeing 747’s op volle krag.

Elon Musk, die eienaar van Space X, se eerste Tesla Roadster is aan boord die vuurpyl (Foto: Nasa)

Twee van die drie vuurpyle waaruit die Heavy bestaan, is al voorheen as Falcon 9’s gelanseer, en herwin. Musk maak dit sy handelsmerk om herbruikbare dele van vuurpyle te herwin deur dit sag na die aarde te laat terugkeer. Ook die Heavy sal grootliks herwin word, met twee van die dele wat na die lanseerplatform sal terugkeer, en ’n derde wat op Space X se sleepboot ter see sal land. Dit stel Space X in staat om ’n lansering teen slegs ’n derde van die prys deur ’n mededinger te doen, al is die mededinger se vuurpyl net die helfte so sterk.

Musk het erken dat die gelyktydige afvuur van die drie vuurpyle baie kompleks is, en dat dit daarom moontlik is dat die Heavy kan ontplof. Hy wys egter daarop dat sekere toetse nie op vaste grond gedoen kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anton ·

Dalk n dom vraag……..maar waarom wil hy sy motor in n wentelbaan om Mars plaas? en nog vir so lank daarby?
As die wêreld nog teen daai tyd bestaan, wat ek natuurlik sterk betwyfel, sal motors soos die een, nie meer bestaan nie.
Dalk n monumentstuk???

t ·

Soos baie ander eksentrieke mense gaan hy dit doen, omdat hy kan.

martin ·

Ek dink dis ‘n lawwe feit. ‘n Miljard jaar in ‘n wentelbaan!!!! Sjoe, ek weet nie jong. Geen tegnologie wat ons tans het kan so lank hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.