Met ’n geraamde oppervlaktemperatuur van 454 grade Celsius word Venus as die warmste planeet in die sonnestelsel beskou. Sy swaar atmosferiese druk op die oppervlak is 90 keer so hoog as op die aardoppervlak, of gelykstaande aan die druk ongeveer ’n kilometer onder die see. Die kweekhuis-effek word as die hoofoorsaak van die geweldige hitte beskou.
’n Span navorsers wat data van die Europese Ruimte-agentskap, ESA, gebruik het, het nou tot die verrassende gevolgtrekking gekom dat dit by Venus se pole ysig koud is – baie kouer as wat ons dit by Antarktika of die Noordpool ken, met temperature wat tot -273,15 grade Celsius daal.
Die data is van ESA se tuig, Venus Express, bekom. Hoewel verbinding twee jaar gelede met die tuig verbreek is, duur dit baie langer om al die data te verwerk. Dit is veral die data wat in die laaste deel van die tuig se sending bekom is, wat nou die verrassende bevindinge opgelewer het en in Nature Physics geplaas is.
Met die tuig se brandstof feitlik gedaan is die tuig op sendings in Venus se atmosfeer gestuur, in ’n proses wat as lugremming bekend staan. Van hierdie duikslae in die atmosfeer is ook oor die pole gedoen. Die metings wat die ysige koue opgelewer het, is op ’n hoogte van 130 tot 140 kilometer geneem. Nog baie navorsing moet gedoen word en ’n tuig wat spesifiek op Venus se pole fokus, is nodig om meer akkuraat te bepaal hoe sake op die pool-oppervlak daar uitsien.
-273! Dis ongelooflik! wat is die temperatuur bo in sy atmosfeer wonder ek nou. Dan sal daar n stuk moet wees wat na aan ons atmosfeer ook is, (waar dit oorgaan)? Het dit metaan in die atmosfeer? Dalk die moeite werd om met n ballon daar rond te gaan dryf en die plek van nader te bekyk :)