[Video] Juno veilig by Jupiter

Kunstenaarsvoorstelling van Juno naby aan Jupiter. Grafika NASA/JPL/Caltech

Kunstenaarsvoorstelling van Juno naby aan Jupiter. Grafika NASA/JPL/Caltech

Nasa het Dinsdagoggend gesê die organisasie se Juno-ruimtetuig het veilig in ʼn wentelbaan om Jupiter aangeland.

Dit volg nadat Juno sy spoed met aankoms suksesvol verminder het.

Die ruimtetuig, wat teen ʼn spoed van 40 km per sekonde oftewel 200 keer die snelheid van klank beweeg, sou verby Jupiter gesnel het indien hy nie suksesvol spoed verminder het nie. Dit sou beteken dat die sending misluk het.

Dit was ʼn besonder delikate operasie om die tuig spoed te laat verminder tot presies die regte snelheid.

Nasa-wetenskaplikes het Dinsdagoggend ʼn gebeurlikheidstrategie tydens ʼn mediakonferensie opgeskeur ná die suksesvolle sending.

Diane Brown, ʼn projekbestuurder van Nasa se Jet Propulsion Laboratorium, het gesê die hele span is uit hul vel van opgewondenheid. “Die wete dat ons nou saans kan gaan slaap sonder om bekommerd te wees oor dit wat môre gaan gebeur, is wonderlik. Ons het pas die moeilikste taak uitgevoer wat Nasa nog ooit vermag het.”

Maroela Media het vroeër berig dit het Juno sowat vyf jaar geneem om Jupiter te bereik. Wetenskaplikes het dit só beplan dat die tuig Jupiter op die Amerikaners se Onafhanklikheidsdag bereik.

Die byna 3 miljard km wat die tuig afgelê het, sluit ’n groot “terugval” na die aarde in, om deur die slingervelmetode genoeg spoed op te bou om Jupiter te kon bereik.

Weens Juno se nabyheid aan Jupiter is die instrumente en rekenaar aan boord spesiaal teen die planeet se geweldige magneetveld en bestraling beskerm.

Die rekenaar en ander elektronika word gehuisves in ’n kluis van titanium wat 180 kg weeg. Die rekenaar kan nogtans bestraling oorleef wat miljoen keer so sterk is as dit wat as dodelik vir die mens beskou word.

Juno gaan volgens beplanning een keer elke 53 dae om Jupiter wentel tot 14 Oktober waarna die tuig teen ʼn vinniger pas elke 14 dae om die planeet gaan wentel.

Die tuig sal uiteindelik deur die geharde omgewing en bestraling verwoes word, maar gaan tydens sy “bestaan” onder meer die komposisie, gravitasie en magnetiese veld van Jupiter bestudeer, asook soek na leidrade vir die vorming van die planeet en die bron van die planeet se onstuimige winde, wat ʼn spoed van tot 618 km/h kan haal.

Die tuig gaan ook kleurfoto’s neem deur middel van sy JunoCam-kamera.

Jupiter is meer as duisend keer so groot as die aarde en is ’n gasplaneet. Die toerusting aan boord is ontwerp om diep deur die wolke te kan priem en so meer oor die ontstaan van Jupiter te wete te kom.

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henk ·

Ek kan werklik nie die sin daarvan insien dat daar multi biljoene. miljarde gespandeer word om allerhande sateliete en ruimtetuie na planete biljoene kilometers van hier te stuur om uit te vind wat daar aangaan nie. Gaan dit van die barbare op die aarde ontslae raak of hulle beter mense maak? Gaan dit kanker genees? Gaan dit voedsel in miljoene wat in elk geval te sleg is om te werk, se mae sit? Gaan dit werk skep vir die wat wel wil werk maar nie kan werk kry nie agv die feit dat hulle voorheen bevoordeel was? Gaan dit infrastruktuur in die land en in die wereld verbeter?

E.K. ·

Ai tog Henk, die mens het die verstand om vooruit te gaan en nuwe dinge te ontdek. Weet jy WAT het ruimtereise alles ten goede as gevolg gehad? Moenie in ‘n borrel leef nie man. Byvoorbeeld die tegnologie dat jy hier kan sit en kommentaar lewer op ‘n pc is ‘n direkte gevolg van die tipe ding!

Stoney ·

Ek dink ook dis wonderlik dat wetenskaplikes so slim geword het dat ons nou weet die aarde is nie plat en dat ons nie oor die rand sal val nie. Die heelal is ongelooflik. Iemand wat nou nog sê daar is nie ‘n God is volgens my net lus om te stry. God het alles gemaak en Hy is die heerser oor dit. Dankie dat Hy die wetenskap ‘n kykie in Sy grootse werke gee.

WL ·

Stoney ek is bevrees presies die teenoorgestelde is ongelukkig besig om te gebeur. Hoe meer vordering mense maak, hoe meer reken hulle dat hulle tot enigiets in staat is, sonder God. En hoe meer onafhanklik hulle voel, hoe minder glo hulle.

Eliza-beth ·

Stoney – 100% met jou. Enige een met verstand sald it besef plus ook dat ons die verstand van die Vader gekry het om dit te gebruik en te ontwikkel en sulke tipe vooruitgang te maak. Die wat volgens WL dink hul is slimmer as God is die minderheid en sou in elk geval so redeneer of daar nou hierdie vooruitgang was of dan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.