[Video] Nasa stuur ‘krimpvarkies’ na die buitenste ruim

Kunstenaarsvoorstelling van die Hedgehog (Grafika: Nasa)

Kunstenaarsvoorstelling van die Hedgehog (Grafika: Nasa)

Nasa ontwikkel twee prototipes van ’n robottuig sonder wiele om op hemelliggame met min swaartekrag, soos asteroïde en komete te land en rond te beweeg.

Die tuig, bekend as die Hedgehog (krimpvarkie), het nie ’n bo- of onderkant nie, en rol eenvoudig self al hoppende in die rigting waarin dit moet beweeg. Dit het speke aan die buitekant wat met die navigeerbaarheid help, maar ook bodemmonsters losskud wat ontleed kan word. Vliegwiele binne die tuig speel ’n groot rol om die tuig se bewegings gekontroleerd te hou.

Die tuigie behoort  ook met gemak uit ’n gat te kan kom deur teen ’n hoë spoed in die rondte te draai.

Met die eienskappe van die tuigie hoop die wetenskaplikes om die probleme wat met Philae se landing op ’n komeet ervaar is, te kan oorkom.

In ’n afsonderlike ondersoek stel Nasa ondersoek in na ’n splinternuwe konsep om op liggame met min swaartekrag te kan land en weer op te styg. Die tuig sal van die asteroïde of komeet se eie kinetiese energie benut vir die maneuvers. As deel van die proses word ’n harpoen met ’n baie sterk lyn van tussen 60 en 600 kilometer lank na die oppervlak geskiet. Soos met ’n groot vis aan die lyn sal die lyn eers langer uitgerol word voor die tuig hom na die oppervlak sal inkatrol.

Bronne: Christian Science Monitor,  Astronomy Magazine

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.