Sakeliga KragDag 2019: Só lyk ‘Raadsaal’-program

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Verskaf)

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer alle paaie lei na Diamantvallei, aan die oostekant van Pretoria, waar Sakeliga KragDag 2019 vir 8, 9 en 10 Augustus 2019 beplan word.

Tydens verlede jaar se ekspo het meer as 15 000 mense die opwindende stalletjies van ongeveer 350 uitstallers besoek om hulle unieke produkte en dienste te kom besigtig. Hoewel KragDag se teikenmark en voedingsgebied die gebied met ʼn radius van ongeveer 200 km rondom Diamantvallei is, is besoekers, uitstallers en deelnemers aan KragDag se aktiwiteite van reg oor Suid-Afrika ontvang.

Met ʼn databasis van ongeveer 80 000 kontakte wat op ʼn gereelde basis van ʼn KragDag-nuusbrief voorsien word, kan met reg gesê word dat mense van reg oor die wêreld by KragDag betrokke is by wyse van internet-tegnologie.

Die KragDag-ekspo handel in hoofsaak oor die tema van doen-jou-eie-ding met uitstallings en ander aktiwiteite wat die klem laat val op onderwerpe soos volhoubaarheid, hernubare energie, ʼn selfstandige leefstyl, baanbreker-tegnologie, die makersfilosofie, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, entrepreneurskap, vervoer, waterbenutting en -besparing, riool en nog vele meer.

ʼn KragDag-aktiwiteit wat elke jaar groot belangstelling wek, is die Raadsaalprogram. Hoëprofiel kundiges neem op uitnodiging deel aan aanbiedings (lesings) en paneelbesprekings, en besin en debatteer aktuele sake en onderwerpe van die dag.

Sakeliga KragDag 2019 vind vanjaar van 8-10 Augustus oos van Pretoria plaas. (Foto: Verskaf)

Die “Raadsaal” is ʼn groot tent wat sitplek bied aan ʼn gehoor van ongeveer 150 mense. ʼn Eie en unieke dinamika ontstaan tussen sprekers en die gehoor wanneer mense in en uit die tent beweeg, vrae vra en ná die tyd sommer self met die sprekers en paneeldeelnemers gesels en menings uitruil.

Tydens Sakeliga KragDag 2019 word die gehoor toegerus met aanbiedings en paneelbesprekings oor ʼn verskeidenheid onderwerpe.

Die nodige klanktoerusting, video-opnametoerusting, rekenaars en videoskerm word in die tent voorsien. Opnames van elke aanbieding word gemaak wat intyds, deur middel van Facebook, oor die internet gestroom word, ten einde ʼn groter gehoor – selfs van reg oor die wêreld – te verseker. Hierdie opnames word daarna as YouTube-video’s beskikbaar gemaak sodat daar weer na die aanbiedings gekyk kan word. Behalwe vir die geleentheid wat die teenwoordiges het om vrae aan die sprekers na die aanbieding te stel, word ook voorsiening gemaak vir elektroniese wisselwerking met die “buite-gehoor” met behulp van WhatsApp en Facebook.

Vir aanbiedings word voorsiening gemaak vir tydsgleuwe van 45 minute. ʼn Tipiese aanbieding duur ongeveer 30 tot 35 minute, waarna vyf minute toelaat word vir vrae en vyf minute vir sprekerruiling.

Vanjaar spog KragDag met aanbieders soos Dawie Roodt van die Efficient Group wat verduidelik wat die onvermydelike gevolg van ekonomiese wanbestuur vir Suid-Afrikaners sal wees. Dr. Anthea Jeffery van die IRR het ingestem om te praat oor “The National Democratic Revolution and Land Reform”.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep. (Foto: Verskaf)

Omstrede standpunte word deur prof. Francois Durand van die Universiteit van Johannesburg ingeneem wanneer hy stel: “Red die planeet deur eerder vleis te eet.” Tom Kruger, ʼn kundige in die aanwending van hommeltuie vir sekuriteitsdoeleindes, praat oor die regulering en wetgewing rondom hommeltuie. Met hommeltuie wat ʼn al groter rol in die ekonomie begin speel, is dit beslis ʼn onderwerp waarvan kennis geneem moet word.

Jacques Classen, ʼn regsadviseur vir verskeie maatskappye, gee raad oor hoe om private bates teen staatskaping te beskerm. James Kemp, joernalis van Pretoria FM, gee sy mening oor die onafhanklike media se rol in die strewe na onafhanklikheid, en dr. Dirk Hermann van Solidariteit praat oor die onderwerp “Ons bou om te bly”.

Op die terrein van die onderwys bied Martie du Plessis van Dynamis ʼn lesing aan oor die nodigheid vir volhoubaarheid van onderwys – onderwys wat ná 20 jaar steeds vrug dra.

Wat alternatiewe energie betref gaan Linda Gould van PQRS raad gee oor hoe om in die keuse en aanskaffing van ʼn sonkragstelsel risiko’s te verminder en ook opbrengs te verseker.

Entrepreneurskap bly nie agterweë nie en lesings oor die belangrikheid daarvan word deur Marina en Fergus Ferguson gegee. Marina gaan spesifiek fokus op die rol wat vroue as entrepreneurs speel. Sakeliga word ook die geleentheid gebied om inligting rakende sy aktiwiteite en die rol wat hy vir sakelui kan speel en graag wil speel te kommunikeer.

In 2018 het meer as 15000 mense die stalletjies by KragDag besoek. (Foto: Verskaf)

Tydens elk van die drie dae waaroor KragDag strek word ʼn paneelbespreking oor die etensuur gehou oor belangrike en interessante onderwerpe. Paneelbesprekings is vir die eerste keer tydens KragDag 2018 gehou en vanjaar word indringend gekyk na verskillende mega-tendense nasionaal en internasionaal onderleiding van Piet le Roux van Sakeliga. Mega-tendense ten aansien van die wêreld van politiek en gemeenskap, in die sakewêreld en in die wêreldekonomie word onder die loep geneem en telkens word gevra wat die toekoms inhou. Kom luister gerus na kundiges soos Alida Kok, rubriekskrywer van Beeld; John Kane-Berman van die IRR; Prof. Koos Malan, professor in Publiekreg, Jacques Basson van Klipkouers-faam, Niël Pretorius van DRD Gold; Lambert van der Nest van Wild Fig Holdings, die NILO Groep en Mergon Invest, asook Dawie Roodt van die Efficient Groep.

Hou gerus die KragDag-webwerf dop om die wat en wanneer van die Raadsaal-aktiwiteite te sien. Word so deel van ʼn ingeligte en deelnemende KragDag-gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.