Samsung Galaxy S8 dán in SA

Die nuwe Samsung Galaxy S8 (Foto: Samsung)

Samsung wil die vertroue van aanhangers probeer terugwen met die splinternuwe Galaxy S8 en S8 Plus-modelle wat Woensdagaand amptelik bekendgestel is.

Dié belofte volg nadat die maatskappy meer as $5,3 miljard (sowat R67 miljard) verloor het nadat die Samsung Note 7 wêreldwyd teruggeroep is weens elektroniese probleme wat veroorsaak het dat dié model aan die brand geslaan het. Meer as 2,5 miljoen van dié slimfone is onttrek.

Die nuwe Galaxy S8-model se skerm is 14,5 cm (diagonaal) en het ook ronde kante soos die S7 Plus-model.

Alles aan die voorkant van die slimfoon is nou raakskerm nadat die ikoniese tuisknoppie verwyder is. Die S8 Plus is met 15,5cm (diagonaal) effens groter en is tans een van die grootste selfone op die mark.

Samsung het intussen ʼn oog-skandeerder aangebring waarmee die foon oopgesluit kan word.

Albei modelle se kameras aan die voorkant van die skerm is nou 8MP in plaas van 5MP terwyl die agterste kamera steeds met 12MP spog.

Samsung gaan verder ook Bixby, sy eie stemassistent, gebruik wat as teenvoeter vir Google Assistent en iPhone se Siri gaan dien.

Voorafbestellings vir die Galaxy S8 en S8 Plus is sedert Donderdag oop, maar die afleweringsdatum van dié bestellings is eers 21 April.

Albei modelle sal glo op 5 Mei in Suid-Afrika bekendgestel word en verkoop word teen R15 499 (S8) en R17 499 (S8 Plus). Die toestelle is in swart, grys en goud beskikbaar.

Bron: Samsung, CBS

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.