Samsung wil Apple só troef met slimfoon

Foto: AP Photo/Lee Jin-man

Kort nadat Apple die jongste weergawe van sy gewilde iPhone Dinsdagaand bekend gestel het, het Samsung die moontlikheid van ʼn voubare slimfoon bekend gemaak.

Koh Dong-jin, Samsung se uitvoerende hoof van digitale kommunikasie, het dié nuus Dinsdagaand bekend gemaak. Die maatskappy se aankondiging het kort op die hakke van Apple se bekendstelling by die nuwe Steve Jobs-teater in Kalifornië gevolg.

Apple en Samsung is al vir etlike jare teenstanders – veral in die wêreld van slimfone – en dit kom as geen verrassing nie dat dié reus Apple se jongste slimfoon wil troef.

Dong-jin het Dinsdagaand tydens ʼn perskonferensie gesê die maatskappy moet nog talle “hekkies oorkom” voordat dié slimfoon ʼn realiteit kan word.

“Ons is besig om ondersoek in te stel na talle kwessies, maar voubare slimfone is op ons padkaart [in die toekoms],” het hy gesê, sonder om uit te brei.

Gerugte rondom ʼn slimfoon met ʼn voubare skerm doen al sedert 2013 die ronde nadat Samsung sy slimfoon met ʼn geboë skerm bekend gestel het.

Volgens CNN het ʼn kenner Samsung se aankondiging as “heel realisties” beskryf.

“Samsung werk al ʼn geruime tyd aan ʼn slimfoon met ʼn voubare skerm,” het Jusy Hong, ʼn analis, gesê.

Lees meer oor die splinternuwe iPhone 8 én bykomende iPhone X (iPhone 10) op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Hoop nie die ” hekkies” wat oorkom moet word is n afkykery by Apple nie. Dis mos maar n ou laai van die Asiatiese blok. Enigste voordeel is dat sny hul die prys tot op die been.

Saartjie ·

Met ander woorde, Eish, die Asiatiese blok beoefen maar net die basiese beginsels van kapitalisme. Of moet daardie werkwoord dalk ‘pleeg’ wees?

Piet Snot ·

Nee jong, in dié geval is die Asiërs die wêreld ver vooruit. Hulle hoef by niemand af te kyk nie; hulle lei innovering.

Juan Olivier ·

Jy verwar Suid-Korea met Sjina. Samsung is een van die wat voor in die ry staan wanneer dit by tegnologie ontwikkeling en kwaliteit kom.

Jaco ·

Mense, sien jul nou wat gebeur indien daar gesonde kompetisie is! Innovering, vooruitgang, klient georientieerd ens…..Eskom, Dstv, Telkom het geen kompetiesie nie en is dit weer besighede met geen innovering, agteruitgang en geen klientediens! Suid Afrika se monopoliee moet val!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.