SANParke waarsku oor hommeltuie ná inhegtenisneming

SANParke wys die publiek daarop dat die gebruik van hommeltuie in geen nasionale park in Suid-Afrika sonder meer toegelaat word nie.

Die praktyk is verbode ingevolge die nasionale wet op omgewingsbestuur (Nema) se regulasies rakende beskermde gebiede waarvolgens dit “onwettig is om laer as 2 500 voet (762 m) bo die hoogste punt van enige nasionale park te vlieg met ʼn lugvaartuig of hommeltuig sonder die toestemming van die bestuurders van die spesifieke nasionale park”.

SANParke het gesê daar was onlangs ʼn voorval waar ʼn dagbesoeker in hegtenis geneem is vir die gebruik van ʼn hommeltuig in die Krugerwildtuin.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die wildtuin se beskermingsdienste het die dagbesoeker in hegtenis geneem nadat die persoon uit ʼn voertuig geklim en die hommeltuig laat vlieg het,” het William Mabasa, woordvoerder van die Krugerwildtuin, gesê.

“Ons wil mense waarsku: Indien hulle gevang word dat hulle ʼn hommeltuig in ʼn nasionale park laat vlieg, sal hulle onmiddellik in hegtenis geneem word en daar op hul toerusting beslag gelê word.”

Volgens Mabasa is die vlieg van ʼn hommeltuig in ʼn nasionale park nie net ʼn oortreding van die Nema-wet nie, maar geld daar ook beperkings in terme van lugverfilmingsregte en is dit dus ʼn skending van SANParke se verfilming-en-fotografiebeleid.

“Om só ʼn lugtuig onwettig in parke te laat vlieg kan ʼn negatiewe uitwerking hê op die welstand van ons diere, asook die ervaring van die besoekers – dermate dat diere versteur en agtervolg word,” het Mabasa gesê.

“Ons wil graag die besoekers bedank wat die onlangse voorval aangemeld het. Ons moedig ook alle wetsgehoorsame burgers aan om hierdie soort voorvalle by die noodoproepsentrum aan te meld sodat ons die mense op heter daad kan betrap.”

Bel die noodoproepsentrum by 013 735 4064, 013 735 0197 of 076 801 9679.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stokkies ·

“Asb Jan, ek is nie lus om elke dag op en af te ry en soek vir diere nie, stuur jou hommeltuig gou in die lug in en kyk waar is die groot vyf, ek wil voor 14:00 terug wees by die kamp met sein sodat ek kan opvang met my Maroela nuus.”

Sven ·

Daar is sio baie ander reels wat op n daaglikse basis oortree word, rommel strooi, spoedgrens oorskry, ens.. word lekker dan anderpad gekyk..

Adri ·

Die spoedgrens word veral deur amptenare in amptelike voertuie van Sanparke en afleweringsvoertuie oorskry. Dit word geduld, maar die arme besoekers word met valk-oë dopgehou. Dit is hoekom ek nie meer soontoe gaan nie.

anton ·

Was nog nooit daar nie en stel ook nie belang om soontoe te gaan nie.
Behalwe dat dit so buitensporig duur is, het ek al so baie goed gehoor en gelees, dat dit meer as genoeg rede vir my is om eerder daar weg te bly.

Chris Ws ·

Anton,kyk eerder in die gemak van jou huis na National Geo Wild kanaal 182 en jy gaan BAIE meer sien as wat julle in die Kruger Wildtuin sal sien.Was saam met mense by wie ons gekuier het In Komatipoort vir die dag Wildtuin toe.Skasrs binne kry ons ‘n hele spul voertuie wat na iets in die bos kyk.Ons kon nie sien wat dit was nie en het met ‘n groot gesukkel deur in die veld te ry, by die lot verby gekom.Ek en my vrou was voorheen in die Wildtuin gewees maar sal nie weer ons geld mors nie. Ek het oornag plek bespreek vir ons en oorsese vriende.Daar gekom moet ons hoor dat daar ‘n dubbele bespreking plaasgevind het(ons het 10 maande vooruit bespreek) en dat aar geen rondawel vir ons beskikbaar was nie.Ons moes toe oornag in die wildbewaarders se parkhome.Ons oorsese gaste en ons was NIE beindruk nie.

Andrec ·

Ek steun SANPARK ten volle. Hommeltuie is lekker speelgoed en kan vir die gewone ou die lewe intersant maak, maar…..in die hand van die boef is dit fataal. dink aan die rhenoster of olifant stroper wat vlieg om wild te soek. dit maak sy lewe baie maklik want hy kan sien waar en wie die diere beskerm en maak sy stopery baie maklik. hoe besluit SANPARKe wie is eerlik en wie is nie. Dieselfde, almal ondersteun die gebruik van die goed in beboude gebiede. wat kan n bietjie pret nou saakmaak, maar dink as n boef die ding oor jou huis laat vlieg. wat sien hy alles. hy weet waar heinings is waar honde is, en kan dalk sien waar alarmas en kameras is. maak ons eerlike mense net n beter teiken. Dit is as die ou kan vlieg wat gebeur as hy nie kan vlieg en dit val.. what goes up must come down. die goed is n euwel as dit nie beheer word nie. en hoe beheer n mens dit dis die vraag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.