Schalk span tegnologie in vir jongste aanbieding

Wesley van der Westhuizen en Schalk Bezuidenhout is te sien in die nuwe produksie ‘Schalk sing sleg’.

Nadat al die Kaapse vertonings van sy jongste aanbieding, Schalk sing sleg, gekanselleer is as gevolg van voorsorgmaatreëls wat landswyd ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp, het die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout besluit om tegnologie in te span om aanhangers toegang tot die produksie te gee.

Bezuidenhout, wat ook op die gekanselleerde Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien sou wees, sal eersdaags in die gemak van sy sitkamer in sy woonstel in Linden, Johannesburg, saam met die musikant Wesley van der Westhuizen Schalk sing sleg aanlyn aanbied.

In dié nuwe produksie kielie Bezuidenhout die gehoor se lagspiere deur oorspronklike, komiese liedjies uit te voer terwyl Van der Westhuizen hom begelei op ʼn verskeidenheid musiekinstrumente.

Die lirieke is uit Bezuidenhout se pen en Van der Westhuizen het die melodieë geskryf. “Dit is al baie in die wêreld gedoen waar mense bestaande liedjies se lirieke vat en dit verander om snaaks te wees. Ons doen dit glad nie. Al die liedjies is oorspronklik,” sê Bezuidenhout.

“Dit is eerstens ʼn komedievertoning en tweedens ʼn musiekvertoning, maar dit is ʼn kombinasie van die twee, natuurlik met ʼn bietjie skerpskets ook tussenin. Die musiek is ook baie mooi, want Wesley is ʼn briljante musikant.”

Bezuidenhout verdien reeds al byna ʼn dekade lank sy brood en botter as komediant. “Daarom hou ek daarvan om soms dinge op sy kop te draai. En ek dink met die aanlynvertoning is ons weer op die voorvoet van oorspronklikheid.”

Hy vertel die konsep vir Schalk sing sleg is geïnspireer deur die spesiale Adam Sandler-komedie op Netflix getiteld 100% Fresh. “Dit is definitief een van my gunstelinge van die afgelope paar jaar. Waarvan ek die meeste gehou het, is dat dit ʼn mens net kan lag – daar is niks politiese grappe of sosiale kommentaar nie. Ek sou sê ons vertoning lewer wel ʼn bietjie meer sosiale kommentaar,” sê Bezuidenhout.

Die komediant, wat tans op die kassie te sien is as Danny Beyers in die kykNET-komediereeks Hotel, verklap dat hy senuweeagtig is oor die aanbieding van Schalk sing sleg.

“Ek het nog nooit so ʼn vertoning gedoen nie. Met my komedievertonings ken ek my proses en ek weet dat ek die helfte nog kan opmaak soos ek aangaan, maar met ʼn musiekvertoning moet alles ingeoefen word. Daar is maar altyd ʼn mate van angs voor ʼn nuwe vertoning, want ek wil net hê dit moet beter wees as wat ek voorheen gedoen het of ten minste op standaard.”

Kaartjies vir die vertoning is teen $3 (sowat R50) aanlyn beskikbaar. Kykers sal ook ná die tyd per e-pos die geleentheid kry om ʼn donasie te maak, aangesien meer as een persoon na die vertoning kan kyk met een kaartjie.

“Dit is maar een van die voordele wat ʼn mens kry met online goed, maar daar is mense wat sleg voel en gevra het hoe hulle kan bydra. As jy só voel, kan jy eenvoudig vir elkeen in die gesin ʼn kaartjie koop en steeds saam op een toestel kyk. Of jy kan na die tyd iets skenk.”

Die aanlynvertoning word aangebied in samewerking met sosialemediabemarker Magriet Groenewald. Die vertoning vind op Woensdag 25 Maart om 20:00 plaas. Kaartjies is hier beskikbaar.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.