Seldsame kunswerke, juwele, silwer aanlyn opgeveil

Portrait of Ellen Peters

Strauss & Co se jaarlikse herfsveiling wat volgens die oorspronklike beplanning in The Vineyard in Kaapstad aangebied sou word, word nou met die nasionale inperking aanlyn aangebied. Dié veiling van kunswerke en ander versamelitems vind op 10 en 11 Mei plaas.

Kunswerke van Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Tretchikoff, Irma Stern, Pierneef, Maggie Laubser, Walter Battiss, Alexis Preller, William Kentridge en George Pemba kom onder die hamer.

Daarby is items soos juwele, Engelse silwerware, meubels, keramiek, glas en wyn ook ingesluit in die veilingkatalogus. Die veiling begin op 10 Mei met seldame wyn van Suid-Afrikaanse en Franse oorsprong en op die tweede dag word die ander items opgeveil.

Een van die interessante kunswerke wat opgeveil gaan word is Portrait of Ellen Peters deur Tretchikoff. Die skildery wat in 1974 gemaak is, is ’n portret van ’n tienermeisie van Kensington in Kaapstad. Die benadering herinner aan dié van die bekende Balinese Girl.

Peters het in 1973 die Mej. Afrika-Suid-titel gewen, in die apartheidsjare die ekwivalent van Mej. Suid-Afrika wat gereserveer was vir wit mense. Peters het Suid-Afrika ook op die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie verteenwoordig.

Sy het Tretchikoff ontmoet en hy het haar gevra om vir ʼn portret te sit. Hy was geboei deur haar gesig aangesien haar voorvaders van Skotland, Frankryk en Indonesië afkomstig is en dit haar volgens hom ʼn “interkontinentale skoonheid” gegee het.

Altesaam 16 werke in verskillende media van Irma Sterm is ingesluit, onder meer Zanzibar Arab, ’n skildery met ʼn geskatte waarde van R11 miljoen is, asook Still Life with Lillies, wat soveel as R14 miljoen kan haal.

Die inhoud van die virtuele veiling is op Strauss & Co se webtuiste beskikbaar of lesers kan hier na die katalogus kyk. Persone wat wil deelneem kan aanlyn registreer en ʼn aanbod op die kunswerke maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.