Slimfoonbemarking – ʼn voorskrif tot sukses!

Argieffoto

Argieffoto

Deur Riaan Kriel

Hoeveel van ons het al gewonder hoe kan ek my onderneming laat groei deur slimfoonbemarking? Dis geen geheim nie dat meeste ondernemings weet hulle moet van digitale bemarking gebruik maak om hul ondernemings uit te bou, maar dis soos ʼn doolhof en elke Jan raap en sy maat ken iemand wat jou Facebook-bladsy sal bou of jou webwerf “die beste ooit” sal maak.

Die vraag is: hoe groei en bemark jy jou besigheid nou dat jy al hierdie platforms het, en meer spesifiek, hoe kan jy slimfoonbemarking gebruik tot jou voordeel?

Volgens Effective Measure se Februarie 2016-verslag word meer as 52% van alle inhoud op die internet gesien deur gebruikers op hul foon.

Meeste gebruikers koppel aan die internet deur hul selfoon (61%), in vergelyking met 14% skootrekenaars en 12% tabletgebruikers.

Amper 80% van gebruikers gebruik die internet op ‘n daaglikse basis, en dis gewoonlik op ‘n slimfoon. Dit is dus tot jou voordeel as hulle jou onderneming deur hul selfoon kan vind, en ‘n goeie ervaring kan hê wat hulle met ‘n positiewe gevoel sal laat.

Jou slimfoon is altyd by jou: ons kyk gemiddeld 150 keer per dag op ons selfoon, en ons het deesdae ‘n persoonlike verhouding met ons selfoon. Wie sou byvoorbeeld nie omdraai om dit te gaan haal indien jy per ongeluk jou selfoon by die huis vergeet het nie?

Waar begin jy?

Eerstens, moenie slimfoonbemarking beskou as ‘n oplossing tot al jou bemarkingsprobleme nie. Dit is wel een van die belangrikste mediums om te gebruik, want dit dien as die sentrale punt van al jou ander bemarkingspogings.

Wanneer jy dus van die TV, radio, koerante, sosiale media ensovoorts gebruik maak om jou onderneming te adverteer, kan jy van slimfoon-bemarkingsmetodes gebruik maak soos om voornemende klante aan te moedig om byvoorbeeld ʼn sleutelwoord soos “rugby” per SMS na ʼn spesifieke nommer te stuur, of deur middel van QR-kodes of kort kodes jou sukses van elke mediageleentheid te meet.

“Altyd aan”

‘n Strategie waar slimfone as ‘n kontakpunt beskou word vir al jou bemarking, word gesien as ‘n “altyd aan”-benadering.

Die doel is om ‘n gemeenskap te bou rondom jou produk en maatskappy, waar jy op ‘n gereelde basis met jou kliënte kan kommunikeer deur hulle slimfoon, wat jou toelaat om ‘n verhouding op te bou. Wanneer hulle dus belangstel in jou produk of diens, is daardie interaksie eenvoudig, effektief en positief.

Hoe doen jy dit?

Dis ‘n stelselmatige proses, waar die volgende aspekte gebruik kan word:

Slimfoonbemarkingsveldtog

Werf kliënte: gebruik tradisionele advertensiemediums om gebruikers na jou webwerf te dryf
Maak kontak: Gee gebruikers ‘n rede om jou produkte of dienste op jou slimfoonwebwerf te besoek deur goeie inhoud te skep
Inskakel: Gee hulle rede om deel te wees van jou gemeenskap deur aanbiedings soos spesiale afslagpryse, kompetisies, geskenkkoeponne, weggeeprodukte, ens.
Registreer: Wanneer die gebruiker by jou slimfoonwebtuiste kom, kan hulle deelneem aan ʼn kompetisie en ʼn unieke profiel skep wat hy of sy net een keer hoef in te vul. Jy kan dus al jou gebruikers segmenteer, sodat jy hulle later kan teiken met inhoud wat meer geskik is vir daardie spesifieke gebruiker.

Behou kontak met jou gemeenskap:

Hier volg jy ‘n proses om gebruikers geïnteresseerd te hou in jou produk of diens, deur deurgaans met hulle in gesprek te bly.

Deel kennis: Lig jou klante in oor voordele van jou produkte en dienste sonder om hulle te verveel – die inhoud moet van waarde wees wat hulle sal vermaak of oplei
Bemark: Bemark jou besigheid se handelsmerk aan jou gemeenskap
Verkoop: Maak gebruik van verskillende promosies en verskaf inligting oor waar en wat te koop is
Beloon jou gemeenskap: Bied spesiale pryse aan wat hulle slegs kan kry wanneer hulle jou SMS beantwoord en deel is van jou gemeenskap
Beïnvloed: Verskaf interessante stories en kennis aan jou kliënte oor jou bedryf

Herhaal en verfyn:

Hierdie is ‘n deurlopende proses wat jy strategies moet herhaal.

Riaan Kriel is die afgelope 12 jaar in die digitale bedryf, en hy het sy loopbaan begin as ‘n verkoopsman vir die uitgewer Bizcommunity.com. Tans is hy ʼn senior kliëntebestuurder by Silverstone Solutions.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.