Só kan jý renosters help

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

TWK Agri en die plaaslike renosterbewaringsorganisasie Rhino Connect het die afgelope naweek geskiedenis gemaak met die bekendstelling van die wêreld se eerste versekeringsfonds vir renosters.

Dié fonds is bekendgestel saam met ʼn app wat ten doel het om ʼn sentrale inligtingspunt, onder meer met die jongste nuus oor stropery, oor renosters te wees.

Kobus Stapelberg van TWK Agri sê die versekeringsfonds is spesiaal ontwerp om private renosterbewaringsorganisasies en -boere by te staan. Dié fonds stel lede van die publiek onder meer in staat om teen R1 000 per jaar ʼn renoster “aan te neem”.

Skenkings van die publiek aan dié fonds word byvoorbeeld uiteindelik gebruik vir alles wat die voorkoming van renosterstropery en bewaring van dié diere insluit. ʼn Gedeelte van dié geld word ook na private eienaars van renosters gekanaliseer om maandeliks te help met die hoë koste van voer. Die eienaars word verder ook finansieel bygestaan deur “eise in te dien” wanneer ʼn renoster sou omkom. Indien daar nie “eise” van renoster-eienaars ingedien word nie, word ʼn gedeelte van die geld terugbetaal.

Die Afrikaanse sanger Andries Hendrik Potgieter, ambassadeur vir Rhino Connect en ook dié organisasie se sakedirekteur, sê die publiek kan ʼn verskil maak deur betrokke te raak by dié inisiatief.

“Om te verseker dat ons renosters oorleef moet ons die private sektor versterk. Die inisiatief is anders as enigiets wat al voorheen aangepak is en mense sal presies weet waarvoor hulle geld gebruik word,” sê Potgieter.

Die app sal die publiek toegang gee tot die jongste nuus oor bedreigde spesies, alles wat renosters behels, inskrywings deur natuurbewaringskenners en beeldmateriaal van die renoster wat hul “aangeneem” het.

Die app is gratis beskikbaar op Google Play en iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wynand Uys ·

Interessante inisiatief.
Ek verneem graag watter projekte en privaateienaars ondersteun gaan word?
Om te sê “word byvoorbeeld uiteindelik gebruik vir alles wat die voorkoming van renosterstropery en bewaring van dié diere insluit” is bietjie onduidelik.
Die inisiatief kan vertroue bou deur koppels na die ‘begunstigdes’ te publiseer.

Tersia ·

Goeiemiddag Wynand, dankie vir jou belangstelling, die projekte met wie ons assosieer is op ons Toepassing gelaai (Android en IPhone) en kan almal oor hul stories en harde werk daar gaan lees. Die privaat boere se name kan ons egter nie noem nie omdat dit die risiko vir stroping sal verhoog, ons sal wel graag selfs met nog meer privaat eienaars wou werk omdat ons in die opofferinge wat hul maak glo, en dat hul dit wel regkry om renosters te beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.