Só kan nuwe iPhone dalk lyk

Foto: AP Photo/Alan Diaz

Apple se lojale aanhangers en gebruikers hoef nie meer lank te wag om te sien wat die maatskappy vir die volgende iPhone beplan nie.

Die tegnologiemaatskappy het Donderdag uitnodigings uitgestuur vir ʼn geleentheid wat op 12 September in Cupertino, Kalifornië, gehou sal word. Soos gewoonlik het Apple nie verklap wat by die geleentheid sal gebeur nie, maar gewoonlik stel die maatskappy sy nuwe iPhone-modelle by dié geleenthede bekend.

Daar word wêreldwyd asem opgehou om te sien of Apple dramatiese verskille aan die iPhone sal aanbring vir die toestel se 10de bestaansjaar. Selfs indien ʼn splinternuwe en unieke iPhone bekendgestel word, sal Apple na verwagting ook bywerkings aan verlede jaar se iPhone 7 en iPhone 7 Plus bekendmaak.

Intussen het die Washington Post berig volgens foto’s wat deur Bloomberg News en ander ingeligte bronne gesien is, sal die nuwe iPhone die meeste veranderinge nóg in die toestel se geskiedenis bevat.

Volgens berigte sal die volgende Apple iPhone na verwagting wegdoen met die tuisknoppie en sal dit voortaan op die foon se skerm verskyn. Die skerm sal duideliker wees en bykans die hele voorkant van die toestel uitmaak. Die skerm sal glo ook langer wees met geronde hoeke, terwyl bo plek gelaat sal word vir die kamera en sensors.

Daar word bespiegel dat die langer skerm meer inhoud sal kan vertoon, dus 24 apps op een skerm (afgesien van die mees gebruikte apps aan die onderkant), asook meer teks of ʼn groter gedeelte van ʼn webblad. Die skerm is egter steeds plat en dit blyk asof Apple nie dieselfde roete as Samsung volg met die gebuigde skerm nie.

Op die foto’s kan ook ʼn dun sagtewarebalk oor die skerm gesien word waar die tuisknoppie altyd was. ʼn Gebruiker kan die balk optrek na die middel van die skerm om die toestel oop te sluit. Die apps op die selfoon sal dalk ook nie meer soos kaarte bo-op mekaar vertoon nie, maar eerder elkeen op sy eie staan.

Die kragknoppie aan die kant van die toestel is groter, sodat dit makliker is om te druk wanneer die toestel met een hand vasgehou word. Daar gaan ook moontlik ʼn vleklose staalband rondom die toestel geplaas word waar die kante van die skerm in sal verdwyn.

Die bywerkings op die iPhone 7 en iPhone 7 Plus sal na bewering vinniger verwerkers bevat, maar steeds dieselfde skerms as die huidige modelle hê.

Al hierdie veranderinge is egter net bespiegeling aangesien ʼn woordvoerder van Apple nie daaroor kommentaar wou lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Truia Grimsell ·

Ek het nou vir 14 maande ‘n iPhone plus 6S en kon nie veel fout vond met die foon nie behalwe dat 2maande na my foon uitwaarborg is het die speaker van inkomende oproepe dood eenvoudig oornag onklaar geraak! Weet nie of ek weer iPhone sal koop nie ek is teleurgesteld on die foon en die prys wat mens betaal en so gou foute optel. En my foon is nie rof hanteer nie. Sal maar weer Blackberry oorweeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.