Suid-Afrika ’n toonvenster van tegnologiese uitnemendheid

Rafael Nadal, Bill Gates en Roger Federer in die Kaap. Foto: Twitter.

Deur Riana Crafford

Een van die opmerkings wat ek gedurig by my Bedryfsinligtingstelsel-studente hoor, is: “Suid-Afrika is mos agter op die tegnologiese gebied”.

Alhoewel ek dit my missie gemaak het om studente te help verstaan hoe ver van die waarheid hierdie stelling is, sluk hulle maar moeilik aan die moontlikheid dat Suid-Afrika ʼn uitstekende poel van vindingryke IT-spesialiste kan hê en dat ons IT-dienste wêreldklas kan wees.

Die IT-praktisyns in Suid-Afrika is nie pampoenkoppe nie, en is wêreldwyd gesog onder ondernemings. Suid-Afrika is immers die teelaarde vir die Elon Musks van hierdie wêreld. Die tegnologie wat in Suid- Afrika ontplooi word, kan maklik kers vashou by die res van die wêreld.

As jy saam met my in die Kaapstad-stadion gesit het tydens die Match in Africa, sou jou hart ook trots in jou borskas geklop het. Ons Suid-Afrikaners kán maar…

Neem nou maar die baanbrekersaanwending van die reeds gevestigde Hawk Eye-tegnologie. (Selfs dié van julle wat nie gelukkig genoeg was om in Kaapstad te kon wees nie, het seker ook gesien dat daar geen lynregters was nie.) Nee, dit was nie omdat dit ʼn vriendskaplike wedstryd was en die spelers nie regtig omgegee het wat die telling was nie. Allermins!

Vir die eerste keer is die uitgebreide toepassing Hawk Eye Live gebruik, eerder as die tradisionele Hawk Eye wat al meer as tien jaar in gebruik is. Dit beteken dat elke lynbeslissing deur tegnologie gemaak word. Wanneer die bal buite die speelveld gebons het, het ʼn elektroniese stem dit binne 0,3 sekondes via die skeidsregter se oorfone aangedui.

Die hele wedstryd lank het hierdie proses seepglad verloop. Welgedaan, George Phiri en die tegniese span! Daar was dus geen rede vir die spelers om met die skeidsregter te stry nie. Hul vertroue in die proses was volkome – nie een keer het die spelers die beslissing bevraagteken nie.

Dis nie die enigste keer waar Suid-Afrikaanse uitnemendheid uitgestraal het nie. Ek kan aan verskeie voorbeelde dink waar tegnologie tydens die verloop van hierdie liefdadigheidsveldtog die proses ondersteun en vergemaklik het.

Dink maar aan die dag, maande gelede, toe die kaartjiekantoor oopgemaak het. Binne minute was al die kaartjies uitverkoop. Hoe sou ons dit sonder die gebruik van aanlyn tegnologie reggekry het?

As ons tegnologiese infrastruktuur dan so minderwaardig sou wees (volgens sekere van my studente), was dit dan seker ʼn eenmalige wonderwerk (oftewel ʼn vloekskoot). Inteendeel, die sentrale aanlyn kaartjiestelsel het ons deurentyd goed bedien – van die skakeling met die bankstelsels om elektroniese betalings te doen tot waar die kaartjies gedruk en versprei is na meer as 50 000 ondersteuners. (En so van bankstelsels gepraat, ons s’n kan saamspeel met die bestes wêreldwyd!)

Nog ʼn mooi storie is toe ek die dag voor die tyd my Parkeer-en-Ry-kaartjies aanlyn deur Computicket aangekoop het. Ek gaan haal dit toe af by Checkers in Bayside Mall. Maar was ek nie ontsteld toe ek in die winkelsentrum aanland en beurtkrag het ingeskop nie? Probleem? Géén probleem! Binne die skemerige winkel is my kaartjies sonder enige probleme uitgedruk. Welgedaan, Computicket en Checkers! Jul gebeurlikheidsplan het gehelp om my betyds by die stadion te kry. (Ons sê nou maar niks oor Eskom nie.)

Riana Crafford. Foto: Verskaf.

Dink bietjie aan die volgende statistieke: Meer as 50 000 mense het saamgetrek in die stadion. As elkeen net vir twéé vriende of familielede ʼn foto of selfie gestuur het toe die wedstryd begin het, het ons selfoonnetwerke binne minute 100 000 beelde versend. Nou praat ons nie eens van video’s nie. Terselfdertyd het mense mekaar heen en weer gebel (“Waar is jy nou? Ek is by Ingang 3.”) Die Kaapse lugruim het uit sy nate gebars, maar elke sein is versend en ontvang en Suid-Afrikaners kon hierdie grootse geleentheid vreugdevol met mekaar deel.

Daar is nog vele ander voorbeelde van Suid-Afrikaanse tegnologiese uitnemendheid: jy moes maar net saam met die 50 000 ander toeskouers by die stadion se hekke ingestroom het, om te sien  hoe die tegnologie ons flink bedien het: die videograwe en die groot skerms wat die mooi geleentheid meer aanskoulik gemaak het; die direkte uitsendings (sodat die res van Suid-Afrika en die wêreld wat nie so gelukkig was om daar te wees nie, dit ook kon sien); die klankstelsels …  Ek dink die leser kry die idee.

Suid-Afrika staan op die inligtingstegnologie-front nie ʼn aks terug vir ander lande nie. (Wel, op baie ander fronte ook nie, maar dit is nie nou in hierdie artikel ter sprake nie.)

Suid-Afrikaners, julle is wenners! Ek is so trots op julle!

  • Riana Crafford is ’n dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

charmaine ·

Ons IT mense kry maar min dankie se en waardering. My seun is ook in die bedryf en moet se dit is harde werk soms het eers soos half 12 oor naweke huistoe gekom maar hy geniet elke oomblik daarvan.

Johan Venter ·

‘n Dag na die wedstryd tussen Federer en Nadal in die Kaapse Stadion, sê ek vir my broer dat ons kan werklik dankie sê vir ‘n man soos Federer met so ‘n puik aanbieding en tegnologie wat skrik vir niks, wat ‘n ongelooflike bemarking vir die land was dit nie, dit het mens werklik met trots gevul.

Ek beduie toe vir hom, as ek reg verstaan het, was die wedstryd wêreldwyd uitgesaai, hy stuur toe daarna vir foto’s en ‘n berig terug oor die dekking wat die wedstryd in Nicaragua gekry het en wat sy skoonseun aan hom gestuur het.

Maar, daarna is ons maar baie negatief oor die impak wat dit sal hê om mense se siening oor die land te verander, want ons sit met ‘n ANC regering beleid en elemente in die land, wat werklik ‘n remskoen is en nie besef wat hul veroorsaak nie.

Dan lees ek vanoggend ook hiérdie artikel:
https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/eff-misbruik-spraakvryheid-om-demokratiese-vryhede-te-vernietig/

Gato ·

Net jammer dat ene Mnr. Lusufi van die onderwys departement nog nie gehoor het van die slim IT mense in SA nie. Hulle stelsel val kort kort om en kan nie die verkeer hanteer wanneer ouers hulle kinders probeer registreer vir skool nie.
Op die platteland is die selfoon maatskappye se infrastruktuur ook maar nie so wonderlik nie. Ons sukkel gereeld met seinsterkte en oproepe wat sommer net afsny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.