Super Mario steek Pokemon Go verby

Super Mario Run

Super Mario Run

Super Mario Run vir iPhone het na bewering alle vorige rekords verbeter vir die eerste dag wat dit aan die publiek beskikbaar gemaak is.

Alhoewel daar nog geen amptelike syfers van Nintendo of Apple bekend gemaak is nie, het derdepartymaatskappye aangedui alle vorige rekords is verbeter.

Volgens Apptopia is Super Mario Run minstens 2 850 000 keer afgelaai tydens die eerste dag op die App Store. Dit verdwerg die Pokemon Go-getalle wat op die eerste dag 900 000 keer afgelaai is.

App Annie het egter aangedui Super Mario Run is 3,5 miljoen keer afgelaai in die VSA.

Daar is verskille tussen Super Mario Run se bekendstelling Pokemon Go se bekendstelling: Pokemon Go is in verskeie fases beskikbaar gemaak en slegs ʼn paar lande het aanvanklik toegang gehad tot die app toe dit in Julie vrygestel is. Dit het vyf maande lank geduur voor dit uiteindelik byvoorbeeld in Indië vrygestel is, ʼn dag voor Super Mario Run op 14 Desember bekendgestel is.

Super Mario Run was wêreldwyd dadelik op iOS beskikbaar.

Die speletjie is gratis om af te laai, maar om toegang te bekom tot die volle speletjie, moet jy aankope in die speletjie doen, wat jou ongeveer R140-00 uit die sak kan jaag. Volgens Apptopia is die koste en beperkte gratis toegang die rede waarom 33 000 persone slegs een ster aan die app toegeken het.

Die speletjie is nog nie beskikbaar vir Android nie. Android-gebruikers sal na verwagting eers in 2017 met dié loodgietertjie in sy rooi oorpak en sy broer, Luigi, kan speel.

Mario het in 1985 sy eerste verskyning in ʼn speletjie gemaak. Gebruikers volg sy avonture in die fiktiewe Mushroom Kingdom en die speler moet oor platforms spring en hardloop. Die speletjies het gewoonlik ʼn eenvoudige storielyn waar Mario die ontvoerde Princess Peach moet red van die primêre vyand, Bowser.

Meer as 310 miljoen speletjies in die Mario-reeks is al wêreldwyd verkoop. Sedert September 2015 is dit die speletjie wat die beste ooit verkoop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.