Tjirp nou meer op Twitter

Foto: Pixabay, Geralt

Nadat Twitter dit vroeër in September vanjaar vir ’n handjievol gebruikers moontlik gemaak het om langer inskrywings op dié platform te maak, is dié stelsel vandeesweek aan meer gebruikers beskikbaar gestel.

Die maatskappy het as deel van ʼn navorsingsveldtog vroeër vanjaar ʼn groep gebruikers, wat lukraak gekies is, se karakterbeperking van inskrywings van 140 na 280 verhoog.

Aliza Rosen, ʼn bemarkingsbestuurder vir Twitter, sê dié veldtog is gedoen omdat dit duidelik geraak het dat gebruikers wat tale soos onder meer Japannees, Koreaans en Chinees praat, hulself beter in Twitter se huidige 140 karakters kan uitdruk as gebruikers wat Engels en ander tale praat. Navorsing van dié maatskappy het onder meer gewys dat twiets in Japannees, Koreaans en Chinees net sowat 0,4% van die tyd al 140 beskikbare karakters gebruik, terwyl twiets in Engels in meer as 9% van alle inskrywings al 140 karakters gebruik.

Rosen het vandeesweek in ʼn verklaring gesê gebruikers wat dus nié Japannees, Chinees of Koreaans praat nie, sal voortaan inskrywings van 280 karakters op Twitter kan maak.

“Die doel van die veldtog is sodat gebruikers van oor die wêreld hulself makliker kan uitdruk op Twitter. Daar was egter baie dinge wat ons in gedagte moes hou – soos onder meer die spoed van die sisteem en die feit dat Twitter juis gekenmerk word deur dié bondige inskrywings. Ons is egter bly om aan te kondig dat gebruikers nou wél meer ruimte sal hê om hulself uit te druk,” het sy gesê.

Rosen het ook gesê Twitter sal volgens dié navorsing geen wesenlike veranderinge ondergaan nie. “Tydens die navorsingsveldtog het ons gesien dat slegs 2% van alle twiets toe wél die 280-karakterperk gehaal het. Die afleiding wat ons maak, is dus dat Twitter steeds soos voorheen gaan vertoon en dat gebruikers baie selde van al die karakters gebruik sal maak.

“Ons het wél gesien dat daar meer interaksie tussen gebruikers plaasvind. Hierdie verandering is juis aangebring sodat ons kan seker maak dat ons gebruikers gelukkig is en die platform geniet.”

Om sodoende ʼn inskrywing van 280 karakters te maak, moet jy verseker dat jy die jongste weergawe van Twitter het. Vir meer inligting, besoek Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.