US‑satelliet gereed vir lansering vanuit Internasionale Ruimtestasie

Rekenaarmodel van die ZA-AeroSat in sy wentelbaan (Foto: Verskaf)

Rekenaarmodel van die ZA-AeroSat in sy wentelbaan (Foto: Verskaf)

ʼn Nanosatelliet wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) en CubeSpace, ʼn inkubasie-maatskappy in die Nedbank Universiteit Stellenbosch Launchlab besigheidsinkubator, ontwikkel is, word in Januarie 2017 saam met 49 ander nanosatelliete vanuit die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gelanseer.

Dié Suid-Afrikaanse nanosatelliet, ZA-AeroSat, weeg slegs 2 kg en is die enigste satelliet uit Afrika wat deel vorm van ʼn internasionale projek, die QB50‑projek, om 50 nanosatelliete bekend as “CubeSats”, elk ongeveer 10 x 10 x 20 cm groot te lanseer vanuit die ISS om metings van die laer termosfeer tussen 200 km en 400 km bo die aarde, in te samel.

ZA-AeroSat word eersdaags na Delft in Nederland geneem waar dit saam met die ander satelliete verpak sal word voordat dit na die VSA verskeep word vir lansering na die ISS in Desember vanjaar.

 Die QB50 span by ZA-AeroSat met prof Herman Steyn en die CubeSpace ingenieurs (Foto: Verskaf)

Die QB50 span by ZA-AeroSat met prof Herman Steyn en die CubeSpace ingenieurs (Foto: Verskaf)

Die Elektroniese Stelselslaboratorium (ESL) in die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en CubeSpace, wat uit die ESL ontstaan het, werk reeds ʼn geruime tyd aan dié plaaslike nanosatelliet.

Die projek is deel van die Europese Ruimteagentskap (ESA) se atmosferiese modelleringsnavorsing om beter voorspellings te maak oor wat met ruimte-objekte gebeur wanneer dit die aarde se atmosfeer binnedring.

Aangesien die ESL, en meer onlangs ook CubeSpace, reeds wye internasionale erkenning op die gebied van innoverende klein-satellietoriëntasiebeheerstelsels geniet, is hulle ook gevra om 15 beheereenhede (Oriëntasiebepaling‑en‑Beheerstelsel-bondels) aan ander satelliete in die QB50‑projek te lewer, sê prof Herman Steyn, wat aan die hoof van die projek staan en ook die stigter van CubeSpace is.

“Hulle verleen dus hulp waar ander deelnemers onvoldoende ervaring in satellietbeheerstelsels het, aangesien dit ʼn baie groot uitdaging is om ʼn satelliet deurgaans binne 10 grade van die wentelbaanrigting te hou,” verduidelik hy.

Die 15 beheereenhede (QB50‑oriëntasiebepaling‑en‑beheerstelsel‑bondels) is volledig binne die ESL ontwikkel en is saam met van die beheerstelselsagteware wat die Surrey Space Centre in Engeland help ontwikkel het, aan die Von Karman Instituut vir Vloeidinamika (VKI) in België afgelewer, vir verspreiding aan ander geselekteerde projekdeelnemers. Die eerste drie beheereenhede is reeds in 2014 aan die ISIS‑satellietmaatskappy in Nederland gelewer, wat in Mei 2014 twee voorloper‑QB50‑satelliete as ʼn toetslopie voor die QB50‑missie gelanseer het.  Hierdie beheereenhede werk nou reeds meer as twee jaar suksesvol in die ruimte op die voorloper-satelliete.

Die ZA-AeroSat (Foto: Verskaf)

Die ZA-AeroSat (Foto: Verskaf)

Die finansiering wat hiervoor ontvang is, het dit moontlik gemaak om Afrika se enigste satelliet vir die QB50-projek te lewer. Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) was betrokke by die ontwikkeling van die satelliet se kommunikasiemodules.

Steyn sê ZA-AeroSat sal ook gebruik word om vir die eerste keer aërodinamiese stabilisering van ʼn satelliet prakties te demonstreer. “Die antennas aan die agterkant van die satelliet sal gebruik word, soortgelyk aan die vere van ʼn pluimbal, om die satelliet gedeeltelik passief te stabiliseer,” verduidelik hy. “Dít word moontlik gemaak deur die groter atmosferiese digtheid in die lae wentelbaanhoogtes van QB50.”

ESL/CubeSpace het ZA-AeroSat se aanboordrekenaar (CubeComputer) en die oriëntasiebeheerstelsel (CubeSense en CubeControl) plaaslik ontwikkel vir ruimtegebruik. Hierdie CubeSat‑komponente word ook tans internasionaal aanlyn in die CubeSatShop, asook in Innovus se aanlyn satellietkomponentwinkel, verkoop. As ʼn eksperiment sal ʼn nuut ontwikkelde sterkamera-satellietsensor (CubeStar) wat slegs 80 g weeg, gevlieg word om dit vir ruimtegebruik te kwalifiseer. ʼn Verdere eksperiment is ʼn gravitasiegolfsensor om te toets of gravitasiegolfsteurings, wat byvoorbeeld veroorsaak word deur die son en maan se posisie relatief tot die aarde, bepaal kan word.

ʼn Bekendstellingsgeleentheid word Vrydag 26 Augustus om 13:00 by die Launchlab gehou waartydens die satelliet vir oulaas besigtig kan word en ʼn kort voorlegging van sy vermoëns gegee sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Magriet ·

Baie geluk! Hier is darem maar slim mense onder ons Boerevolk.

Jan Jooste ·

Puik. Baie geluk manne. As julle nou opsaal, dan is dit ruimte toe!

Slim! ·

Baie interessant en lekker om te sien ons is deel van so ‘n groot internasionale projek. Ek het sommer klomp nuwe woorde ook geleer met die lees van die artikel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.