Verbruikersake: Al die selfoonregulasies

slimfoon-selfoon-instagram-rekenaar-skerm

Foto: Erik Lucatero/Unsplash.com

Die eindgebruiker en intekenaarsregulasies wat deur die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) ingestel is, is deesdae weer groot nuus nadat die regulasies oor data-oordrag verander is. Die regulasies handel egter oor meer as net data-oordrag en dek die hele verhouding tussen jou en jou diensverskaffer. Ina Opperman het weer die regulasies van nader beskou en verduidelik hoe dit jou regte beskerm.

Selfoondienste val onder die gesag van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa), wat in Julie 2015 ʼn werkooreenkoms met die Nasionale Verbruikerskommissie gesluit het om telekommunikasie en uitsaaiklagtes op te los. Okosa het die regulasies gemaak ingevolge die Wet op Elektroniese Kommunikasie om:

  • Die minimumstandaarde vir elektroniese kommunikasiedienste wat aan jou as eindgebruiker gelewer word, voor te skryf;
  • te verseker dat die gehalte van die diens voldoen aan die voorgeskrewe diensparameters; en
  • jou regte te beskerm deur te verseker jy het genoeg inligting om ʼn ingeligte keuse te maak, dat klagtes spoedig en effektief opgelos word en dat eindgebruikers vergoed word waar nodig.

Inligting

Wanneer jy ʼn selfoonkontrak sluit, moet die verkoopsagent jou inlig oor die bepalings en voorwaardes van die kontrak, die deposito wat jy moet betaal, die aansluitings- en administratiewe tariewe, versekering, buite- en binnebondeltariewe, die prys van die selfoon, die moontlikheid van tariefveranderings gedurende die kontraktermyn, die reëls wat geld indien jy die kontrak wil beëindig voordat dit verstryk, reëls vir die oordrag van oproepminute en data, beleid vir billike gebruik, wanneer en die tydperk waarvoor fakture uitgereik word en hoe klagtes hanteer word.

Die diensverskaffer moet gereeld al sy takke besoek om te kyk dat personeel aan die regulasies voldoen en aan Okosa rapporteer hoe suksesvol dit is en wat gedoen word om seker te maak almal voldoen daaraan.

Promosies

Diensverskaffers moet ten minste sewe dae voordat ʼn promosie begin, die besonderhede daarvan by Okosa indien en later daaroor verslag doen. Jou diensverskaffer moet ook seker maak dat jy alle inligting oor die promosie kry op ʼn manier wat jy verstaan – in die taal van Jan Alleman. Die inligting moet die bepalings en voorwaardes van die promosie, hoe lank die promosie duur, jou plig wanneer die promosie verval en alle tariewe wat gehef word, insluit.

Internasionale swerf (roaming)

Die diensverskaffer moet vir jou ʼn welkomboodskap stuur wanneer jy internasionaal kan swerf op jou selfoon met inligting oor die kontakbesonderhede van die diensoproepsentrum, hoe jy na teksboodskappe kan luister en hoeveel dit kos, watter swerfnetwerke beskikbaar is, die koste van die diens vir inkomende en uitgaande oproepe, datagebruik en teksboodskappe en ʼn opsomming van die bepalings en voorwaardes. Jou eie diensverskaffer moet ook vir jou die bepalings en voorwaardes stuur.

Kennis van die regulasies

Diensverskaffers moet ʼn weergawe van die regulasies ontwikkel in verstaanbare taal en dit op sy webwerf en by al sy takke beskikbaar stel.

Rekeninge

Jy kan vra vir ʼn gedetailleerde rekening wat wys presies waarvoor jy betaal. Diensverskaffers moet ook ʼn stelsel hê wat dit vir jou moontlik maak om jou rekening op sy stelsel op te soek. Die koste hieraan verbonde moet ooreenstem met die platform wat jy gebruik.

Indien jy voorafbetaalde dienste gebruik, moet die diensverskaffer ook ʼn verslag aan jou kan verskaf wat aandui waarvoor jy betaal het en hoe jy dit gebruik het.

Terugbetalings

Jy kan jou geld terugeis as die diensverskaffer se dienste nie beskikbaar was nie ingevolge regulasie 9, maar net vir die dae wat die diens nie beskikbaar was nie.

Ander regulasies

  • Diensverskaffers moet hul dienste aanhoudend monitor en jou sewe dae vooruit kennis gee as die diens opgeskort gaan word vir herstelwerk of verbetering;
  • Jou diensverskaffer moet ook ʼn stelsel hê om klagtes op te los en jou laat weet wanneer jou klagte ontvang is;
  • Wanneer jy kla oor jou rekening, mag jou diens nie opgeskort word terwyl jou klagte ondersoek word nie en regstappe mag nie gedoen word om die geld in te vorder nie.
  • Oproepe na die klagtelyn moet gratis wees en oproepe moet binne drie minute beantwoord word.

Kla hier

Bel Okosa by 011 566 3000 om te kla of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.