Verbruikersake: Verbruikers gaan steeds sak skud vir data

selfoon-selfoondata-slimfoon

Foto: Trofos/Pexels.com

Verbruikers het die afgelope jaar met ingehoue asem gewag vir nuwe regulasies wat sou sorg dat hulle ongebruikte data kan oordra en selfs die Nasionale Verbruikerskommissie het stem dikgemaak en verwys na die Wet op Verbruikersbeskerming wat bepaal dat dit vir drie jaar geldig moet bly. Dit lyk nou egter asof dit nie die geval gaan wees nie nadat die diensverskaffers verduidelik het hoe hulle data wat verval het, gaan hanteer in die lig van die nuwe regulasies. Ina Opperman vertel meer.

Die eindgebruiker- en intekenaarsregulasies tree op 1 Maart in werking en is uitgevaardig kragtens die Wet op Elektroniese Kommunikasie. Dit sal nie die pryse van data direk of indirek reguleer nie, maar wel minimum standaarde instel vir die verskaffing van data-, teks- en stemdienste.

Die regulasies, wat in Mei verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer is, bepaal dat jou diensverskaffer jou moet toelaat om ongebruikte data oor te dra na die volgende maand sodat jy dit nie verloor nie, of na iemand anders in dieselfde netwerk. Jou diensverskaffer moet jou ook in kennis stel hoeveel data gebruik is en jou toelaat om te kies of jy buitebondeltariewe wil betaal.

Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 63 bepaal dat voorafbetaalde sertifikate, krediete en bewyse nie mag verval voor die datum waarop die volle waarde daarvan afgelos is in ruil vir goedere of dienste of toekomstige toegang tot dienste nie, of binne drie jaar ná die datum waarop dit uitgereik is nie. Voldoening aan artikel 63 was deel van die konsepregulasies, maar van die netwerke was nie tevrede daarmee nie.

Oordrag van data

Die regulasie is dus juis hersien omdat soveel verbruikers gekla het oor data wat te gou verval voordat hulle dit opgebruik het, maar die vae bewoording het verskeie skuiwergate vir diensverskaffers geskep om steeds nie die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming na te kom nie. Nou lyk die situasie egter só vir verbruikers by die verskillende netwerke:

  • By Cell C sal jy data onbepaald oordra, maar dit gaan jou kos om databondels se geldigheid met ’n dag, week of maand te verleng.
  • By MTN en Vodacom sal jy nog ’n databondel moet koop om te sorg dat jou bestaande bondel vir langer geldig bly.
  • By Telkom is die databondels reeds ’n maand langer geldig, maar jy kan dit nie nog verleng nie.

Nasionale Verbruikerskommissie

Die Nasionale Verbruikerskommissie is verantwoordelik vir die toepassing van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die kommissie het egter met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) ooreengekom dat Okasa die telekommunikasiesektor hanteer en daarom het Okasa die regulasies en die toepassing daarvan hanteer. Die kommissie het wel ʼn voorlegging aan Okasa gedoen hieroor.

Die kommissie het gesê hy glo ongebruikte data moet vir drie jaar geldig wees voordat dit verval. As alternatief moet die netwerke ʼn billike aanbod doen en die geldwaarde van ongebruikte data aan verbruikers terugbetaal aan die einde van die kontrak.

Die netwerke was egter nie gelukkig met hierdie voorstel nie, omdat dit “gebruikers se keuses sal beperk” en goedkoper databondels duurder sou maak. Hoe vinniger die geldigheid van data verval, hoe minder kos dit en databondels is gerig daarop om jou meer data meer dikwels te laat koop.

Okasa se finale regulasies

Volgens Okosa wou hy nie “te voorskriftelik wees oor die vervaldatum van data nie”, maar “moedig diensverskaffers aan om nie data te laat verval voor die vervaldatum van nuwe data nie”. Dit beteken bloot dat data vir minstens twee maande moet geld. Die diensverskaffers doen dit reeds.

Wat nou?

Okosa raai verbruikers aan wat ontevrede is, om by die diensverskaffers te kla en Okasa sal ondersoek instel na diensverskaffers wat jou nie die keuse gee om data te verleng nie. Dit beteken nie veel vir verbruikers nie.

Die kommissie het egter vroeër gesê die kommissie kan die kwessie van data wat verval, ondersoek. Indien die kommissie bevind dat die netwerkverskaffer nie voldoen aan die bepalings van die wet nie, kan hy dit verwys na die Nasionale Verbruikerstribunaal om daaroor te beslis en ʼn bevel uit te reik waaraan die netwerk moet voldoen.

Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie, het by navraag vandeesweek bevestig dat die kommissie ondersoek sal instel.

“Die kommissie het ʼn regsplig ten opsigte van sy mandaat om ondersoek in te stel na vermeende verbode optrede en oortredings. Ons benadering sal egter nou wees om die instelling van die nuwe Okasa-regulasies toe te laat en dit fyn dop te hou.”

Die kommissie meen, volgens Hattingh, dat sy susterreguleerder goed gedoen het om ʼn mate van beskerming vir verbruikers in the telekommunikasiesektor in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jan B ·

Ek is by vodacom. So ek moet ‘n nuwe databondel koop sodat my data nie verval aan die einde van die maand nie? So wat het verander????

GM ·

Was daar regtig mense wat gedink het enige iets gaan verander? Hoekom gaan dié maatskappye hul kliënte tegemoet kom en hope geld daardeur verloor? Hulle weet almal sal aanhou betaal, maak nie saak wat data kos nie.

Marinda ·

Nou hoekom verbaas hierdie my glad nie. Nothing is for free in life.

johan ·

Ek wens hulle wil die unknown en private callers verban of jou die opsie gee dat die operateur dit namens jou blok!! Ek verpes n unknown caller en die operateurs kan dit nie blok nie en ek kan nie verstaan daar in vandag se tyd dit nie nog gedoen kan word nie. Jou foon gee opsies sodat hy nou nommer hide hulle moet dit heeltemal verwyder want nou word jy as klient harras deur iemand wat nie sy nommer wys nie en hulle bel jou enige tyd van dag en nag en het geen respek vir jou nie.

Wanda ·

Download True Caller by app store.Dit block span caller en unknown numbers en hidden numbers

Heather ·

Ek antwoord glad nie oproepe as die nommer nie wys van persoon wat my bel nie!

Tiger ·

Hiers weer ‘n omkoop spul aan die gang!Die selfoon maatskappye maak miljarde wins elke jaar .Okosa dra nie die man in die straat se belange op die hart nie anders sou daar beter regulering van data kostes en die oordag daarvan in plek gewees het.Nou maak hulle wat hulle wil ongeag wat die regering verlede jaar belowe het.Daar het net mooi dadels van daai belofte gekom.Mamon is steeds koning in die anc regering!

Huidig benadeelde ·

Deesdae word gereeld ervaar dat kortboodskappe, (SMS’e), wat dikwels inderdaad kort is, dit wil sê minder as 60 karakters, TWEE “boodskappe” benodig/gebruik om gestuur te word?? Enigiemand anders wat dieselfde ervaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.