
‘n Skermskoot uit die video
Die aanlyn handelsgroep Amazon het vandeesweek die tradisionele manier waarop mense oor inkopies dink op sy kop gedraai.
Die webwerf het vroeër vandeesweek as deel van ʼn bekendstellingsprogram ʼn video op sosiale media gedeel waar hy vir die eerste keer oor sy jongste projek, ʼn inkopiewinkel genaamd Amazon Go, praat.
Amazon Go, ʼn winkel in Seattle, se doel is eenvoudig: om alledaagse dinge, soos byvoorbeeld inkopies, deel te maak van die digitale beweging en om mense se lewe te vergemaklik.
In dié winkel sal klante gans nooit weer in ʼn tou moet staan om vir hulle inkopies te betaal of op die tande moet kners wanneer hulle met ʼn kaart betaal en vir ʼn trae masjien moet wag nie. Klante kan as’t ware in die winkel inloop, die items wat hulle benodig in hulle eie mandjie pak en dan weer uitstap.
Hoe werk dit? Dieselfde tegnologie wat in selfaangedrewe motors gebruik word, is ook in die winkel. Daar is onder meer rekenaarvisie wat die rekenaar in staat stel om te weet watter items jy optel, terugsit en selfs op ʼn ander plek neersit. Al wat jy benodig, is ʼn slimfoon, ʼn Amazon Go-rekening en ʼn Amazon Go-app. Wanneer klante die winkel verlaat, sal die rekening na die app gestuur word en deur middel van die internet betaal kan word.
Die enigste Amazon Go-winkel is tans in Seattle en open in 2017 sy deure. Die handelsgroep beplan om later verder uit te brei.
Vir meer inligting, besoek Amazon Go.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
2 Kommentare
Ongelukkig sal ons dit nooit hier sien nie, want die sal ‘n grooter werksverlies teweeg bring.