[Video] Sonkrag-vliegtuig land in Arizona

Solar Impulse 2 (Skermskoot uit die YouTube-video oor die vlug tussen Hawaii en San Francisco)

Solar Impulse 2 (Skermskoot uit die YouTube-video oor die vlug tussen Hawaii en San Francisco)

ʼn Sonkragaangedrewe vliegtuig het Maandag in Phoenix, Arizona geland ná ʼn daglange vlug van Kalifornië, die jongste been in die reis om die wêreld deur slegs van sonkragenergie gebruik te maak.

Vlieënier Andre Borschberg het die 16 uur lange reis “ʼn pragtige vlug” genoem toe hy uit die Impulse 2 se kajuit gestap het. Hy het omstreeks 05:00 uit Kalifornië vertrek en net voor 21:00 in Phoenix geland.

Die vliegtuig is in Switserland vervaardig en het op 9 Maart 2015 met sy reis in Abu Dhabi begin.

Ná Phoenix, sal die vliegtuig nog op drie plekke in die Verenigde State aangaan voor hulle die Atlantiese Oseaan sal oorsteek op pad na Europa en uiteindelik terug na Abu Dhabi.

Borschberg se medevlieënier, Bertrand Piccard, ook van Switserland, het die drie dag lange reis van Hawaii na Kalifornië onderneem, waar hulle verlede week geland het.

Die Solar Impulse 2 se vlerke, wat wyer is as dié van ʼn Boeing 747, is toegerus met 17 000 sonkragselle wat die skroewe aandryf en batterye herlaai.

Die twee vlugte oor die Stille Oseaan was die gevaarlikste, weens die gebrek aan noodlandingspersele.

“Ons het bewys dat dit moontlik is om ʼn paar dae en ʼn paar aande lank te vlieg, dat die tegnologie werk,” het die 63-jarige Borschberg gesê. Hy het die vyf dag lange reis van Japan na Hawaii onderneem en het homself wakker gehou deur jogabewegings uit te voer en te mediteer.

Die span moes nege maande lank in Oahu, ʼn eiland in die Stille Oseaan, vertoef nadat die vliegtuig se batterystelsel hitteskade op sy reis van Japan opgedoen het.

Die vlieëniers maak gebruik van die geleentheid om met plaaslike gemeenskappe te gesels wanneer hulle in die verskeie stede aandoen en die projek aan hulle te verduidelik. Die projek beloop nagenoeg $100 miljoen en het in 2002 begin.

Volg die avonture op YouTube
Volg die avonture op die webwerf

-AP-skrywer Bob Seavey het tot hierdie berig bygedra

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.