VKB kyk vorentoe in honderdste bestaansjaar

Foto verskaf deur VKB

Dit is vir die VKB Groep ʼn groot voorreg om ons 100ste bestaansjaar te vier. Die geskiedkundige mylpaal raak toenemend merkwaardig in ag genome ʼn markomgewing waar verandering die enigste konstante blyk te wees. Om ná ʼn eeu in ʼn bedryf steeds relevant tot die mark te wees, spreek van ʼn gefokusde strategie waar die vinger op die pols van die behoeftes van ons klante bly.

VKB het in hierdie eeu gegroei vanaf ʼn handjievol landbouprodusente in ʼn klein geografiese area, wat ʼn behoefte gehad het om ʼn koöperasie te stig wat hulle kon bystaan om noodsaaklike goedere en dienste te bekom, tot ʼn onderneming met ʼn voetspoor wat strek oor ʼn groot gedeelte van Suid-Afrika. ʼn Onderneming wat prominent geposisioneer is as een van die grootste rolspelers in landbou in Suid-Afrika.

ʼn Volhoubare landboubedryf asook -produsente was die ontstaansrede van VKB en is ongetwyfeld steeds die goue draad wat elke strategie aanmekaar weef. By VKB glo ons dat dit juis die rede is waarom ons steeds kan staatmaak op die lojale ondersteuning van mense wat juis die mees edele beroep gekies het om ʼn verskil in ons land en die wêreld te maak. Die VKB Groep se primêre doelwit is om die volledige waardeketting van landbouproduksie in Suid-Afrika te ontgin tot voordeel van die aandeelhouers.

Foto verskaf deur VKB

Dit beteken dat VKB namens sy produsente hul insette, goedere, dienste en finansiering ekonomies wil verkry deur optimale benutting van hul kollektiewe volumes en dan op sy beurt die produsente toe te laat om op hul boerderybedrywighede te kan fokus. Dit is juis hier waar die sukses uit samewerking ontsluit word en dit verg ʼn vertrouensverhouding wat waarskynlik nie in enige ander bedryf geld nie. Die produksie van voedsel en vesel het omgesit in ʼn wetenskap en verg toenemend ʼn verhouding tussen rolspelers wat tegnologie en ontwikkeling in die mark navors, evalueer en aan die produsent beskikbaar stel, wat daaruit ʼn meer volhoubare boerdery kan bestuur.

Sekondêr tot die primêre strategie wil die VKB Groep bykomende waarde toevoeg tot die landbouprodukte wat in sy bedieningsgebied geproduseer word en daardeur seker maak dat die produsent maksimum voordeel uit die voedselwaardeketting put en daardeur sy regmatige aandeel daarin kry.

Besoek die webwerf: www.vkb.co.za
Besoek die Facebook-blad: https://www.facebook.com/vkblandbou/
Besoek ons by Sakeliga KragDag 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.