Weerstasies: alles wat jy wil weet

Foto: LNR

Foto: LNR

Sonder volledige weerdata vanaf ‘n uitgebreide weerstasies netwerk wat behoorlik onderhou en gereeld gekalibreer word, is weldeurdagte landbounavorsing nie moontlik nie.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) alleen het meer as 500 weerstasies wat oor die hele Suid-Afrika, maar veral in die landbou- en landelike gebiede, voorkom.

Dit is egter nie net die LNR wat weerstasies het nie, daar is ook weerstasies van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, die departement van waterwese en sanitasie, privaat maatskappye, ens. Aangesien die weerstasies vir verskillende doeleindes gebruik word, is die plasing van weerstasies ook dienooreenkomstig op verskillende plekke; so byvoorbeeld word die weerstasies van die Suid-Afrikaanse Weerdiens meestal in stedelike gebiede gevind omdat dit ondersteuning bied vir langtermyn streeksvoorspellings terwyl die inligting van die LNR se weerstasies weer meestal in landelike gebiede opgerig is waar inligting wat vir landboudoeleindes gebruik word, ingesamel word.

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

Die publiek is nie altyd bewus van die doel en funksie van ʼn weerstasie nie. Mens kan begin deur te verduidelik dat weerpatrone baie kompleks is, aangesien weersomstandighede verander en aanpas by byvoorbeeld topografie, afstand van die see en hoogte vanaf seevlak, as ook ander faktore. Vir boerdery is mikro- en mesoklimaat van belang; eerder as makroklimaat. Vir die boer is die presiese weersomstandighede op sy plaas en omgewing van groter belang vir besluitneming ten opsigte van plaasbestuur soos besproeiing en die bepaling van gepaste gewasse, vrugte en groente in ʼn spesifieke omgewing, terwyl die weersomstandighede in die groter Suid Afrika eerder van belang is vir langtermyn beplanning. Vir hierdie rede wil baie boere graag ‘n weerstasie op sy eie plaas hê!

Dis ook interessant om te weet watter elemente by ‘n weerstasie gemeet word! Die belangrikste elemente vir landbou is reënval, temperatuur, wind (spoed en -rigting), humiditeit en radiasie. Die LNR het ook onlangs begin om grondsensore by ‘n paar weerstasies te installeer vir ‘n navorsingsprojek om grondwater en grondtemperatuur te meet.

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

Die vraag word soms gevra: “Wat word met die data van die weerstasies gedoen?” In die geval van outomatiese weerstasies word die data op ʼn uurlikse basis ingesamel en op die databasis by die LNR-Grond, Klimaat en Water se Pretoria-kantoor gestoor. Dit word dan gebruik om verslae (bv. siekteverslae) te produseer wat aan kliënte gestuur word. Die data word ook gebruik vir landbounavorsing deur navorsers binne die LNR. Sommige datastelle in die LNR se databasis is ouer as tien jaar en kan gebruik word om tendense te bereken. Klimaatsverandering is ‘n moderne gonswoord en geen navorsing oor die onderwerp sal moontlik wees sonder ‘n goed onderhoude weerstasienetwerk en akkurate data nie. Die LNR is ‘n voorloper in navorsing oor klimaatsverandering.

Soms wil die publiek weerdata bekom en wil dan weet of die data beskikbaar is vir die publiek en hoe te werk gegaan kan word om dit te kry. Alhoewel die LNR tans besig om sy beleid oor dataverskaffing te hersien, kan versoeke gerig word aan Maureen Fritz ([email protected]) of Irene Joubert ([email protected]) wat kliënte van ‘n kwotasie sal voorsien.

Die LNR het twintig personeellede wat direk betrokke is by die weerstasienetwerk. Hulle is verantwoordelik vir die onderhoud en kalibrasie van die netwerk, programmering, databasisonderhoud, datakwaliteitsbestuur, ens. Vir uurlikse data genereer elke stasie vier-en-twintig waardes per element per dag dus by 500 weerstasies is dit 12 000 rekords per dag en meer as 4 miljoen per jaar!  Hierdie feite ingedagte gehou laat Jan Publiek besef dat die LNR ‘n waardige bewaarder van hierdie nasionale bate van Suid-Afrika is.

Hierdie inligting is saamgestel deur die LNR en verskaf aan Maroela Media. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.