Wenke vir veilige kuber-vlerksleep

(Argieffoto: Pixabay.com)

In ʼn wêreld waar byna alles in ʼn digitale rigting beweeg, van kruideniersware koop tot motors wat sonder bestuurders ry, is dit g’n wonder nie dat selfs die liefde nou ʼn digitale kinkel het.

Hoewel talle mense aanvoer hulle sal weens verskeie redes nooit van aanlynafspraak-webwerwe gebruik maak nie, toon navorsing dat een uit elke drie mense wel al aanlyn na potensiële pasmaats gesoek het. Met apps wat spesiaal ontwerp is om aanlyn afsprake te vergemaklik, kan jou trouman of -vrou dalk net een klik weg wees.

Maar daar is natuurlik ook ʼn donker kant aan internetafsprake, waarsku Casey Rousseau van 1st for Women-versekering. “Volgens ʼn verslag van die internasionale kubersekuriteitmaatskappy Kaspersky het ongeveer 57% van mense wat aanlyn afsprake maak, erken dat hulle in dié situasies al oneerlik was, en ongeveer 55% sê hulle is al op aanlyn webwerwe op die een of ander manier bedreig,” sê Rousseau.

“Afspraakwebwerwe het die wêreld van verhoudings heeltemal verander. Dit is ʼn prettige en maklike manier om mense te ontmoet, sonder om eens jou huis te verlaat. Die werklikheid is egter dat jy bewus moet wees van die gevare van aanlyn afsprake en jou moet vergewis van die waarskuwingstekens waarvoor jy op die uitkyk moet wees.”

Rousseau gee die volgende wenke om seker te maak jy stel jouself nie in gevaar wanneer jy aanlyn afsprake maak nie.

  • Maak seker jy gebruik betroubare afspraakwebwerwe of sosialemediaplatforms. Doen ʼn aanlyn soektog om ander gebruikers se ervaring van die platform na te gaan.
  • Indien ʼn potensiële liefdesbelangstelling jou vir geld vra, of teenstrydige inligting verskaf, druk die uitvee-knoppie.
  • Pasop vir slenters waar boosdoeners byvoorbeeld intieme foto’s van jou gebruik vir afpersing.
  • Gaan die geografiese instellings op die webwerf na. Dit is waarskynlik dat ander gebruikers jou algemene ligging sal kan sien, maar jou spesifieke adres moet nooit sigbaar wees nie. Jou liggingsinstellings op sosiale media moet ook beperk word tot vriende wat jy vertrou.
  • Doen navorsing oor moontlike pasmaats deur na hulle profiele op platforms soos LinkedIn, Instagram of Facebook te loer.
  • Praat eers met die persoon oor die telefoon voor jy instem om hulle in lewende lywe te ontmoet. ʼn Telefoniese gesprek sal jou ʼn ietwat beter idee gee van wie hulle is.
  • Gebruik altyd jou eie vervoer na ʼn afspraak toe en moenie dat die persoon jou by jou huis of werkplek oplaai nie. Jy wil nie in ʼn posisie wees waar iemand wat jy nie ken nie weet waar jy bly of dat jy nie self kan wegkom indien jy in ʼn onaangename situasie beland nie.
  • Ontmoet altyd op ʼn besige openbare plek. Dit verseker dat daar mense rondom julle is indien jy dalk ongemaklik voel of hulp nodig het.
  • Sê vir ʼn vriend of familielid wie jy waar gaan ontmoet, asook hoe laat jy naastenby terug sal wees. Sodoende sal iemand bewus wees indien iets skeefloop.
  • Gee vir ʼn vriend die persoon wat jy ontmoet se foonnommer en reël vooraf dat jy op ʼn spesifieke tyd ʼn SMS sal stuur net om te laat weet alles is nog reg.
  • Moenie te veel drink nie. Daardie eersteafspraak-senuwees mag dalk knaag, maar weerhou jou daarvan om te veel glase wyn te geniet. Wanneer jy onder die invloed van alkohol is, kan dit jou oordeel beïnvloed en jou meer weerloos laat.
  • Maak seker dat jou drankie nooit onder jou oë uitgaan nie sodat jy gerus kan wees dat dit nie gedokter word nie.
  • Moenie te veel persoonlike besonderhede verklap tydens die eerste ontmoeting nie. Goed soos waar jy bly, waar jy werk en waar jy gereeld sosialiseer, is besonderhede wat jy eers kan deel wanneer jy die ander persoon beter ken.
  • Dra pepersproei by jou en weet hoe om dit te gebruik. Dit kan jou veilig hou indien dinge werklik ernstig skeefloop.

“Onthou altyd, jou veiligheid moet jou eerste prioriteit wees,” sê Rousseau. “As jy in enige stadium ongemaklik voel of voel dat iets nie reg is nie, verskoon jouself, staan op en stap weg – jy moet nooit bekommerd wees dat jy iemand sal aanstoot gee wanneer dit by jou veiligheid kom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WIEBO ·

Hoe desperaat moet iemand wees om so n webwerf te gebruik???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.