Aardklop 2019 se hart klop Afrikaans

Quintus Bezuidenhout, eienaar en kok van Bez Chili Products & Bez’t Potjie. (Foto: Megan Gittins)

Deur Megan Gittins

As jou hart Afrikaans klop, is Aardklop 2019 die plek vir jou.

Sedert 1998 is Aardklop Nasionale Kunstefees al ʼn mekka vir alles wat Afrikaans is: van teater en boekgesprekke tot smaaklike geregte en eg Suid-Afrikaanse, handgemaakte produkte. Vanjaar stel nie teleur nie, met Afrikaans wat verweef is met elke produksie, stalletjie, boekuitstalling, gesprek en, les bes, eetgoed wat op die feesterrein te koop is.

Op die feesterrein bedwelm die geure van eg Afrikaanse eet- en drinkgoed soos warm pannekoek, kondensmelkkoffie en geelvetbiltong jou, terwyl die onmiskenbare reuk van ʼn potjie op die vuur die sintuie prikkel.

Quintus Bezuidenhout, eienaar en kok van Bez Chili Products & Bez’t Potjie, bedien skaappotjie met stampmielies aan feesgangers, terwyl hy boonop self ʼn verskeidenheid speserye rooster en vervaardig.

“Ons maak gebruik van om en by 680 kg skaapvleis en so 380 kg groente vir die week en daarmee voer ons die nasie,” vertel Bezuidenhout. “Daar is regtig niks so lekker soos ʼn goeie potjie nie.”

Kobus se Gat, ʼn gereelde instelling by Aardklop. (Foto: Megan Gittins)

Hoewel Bezuidenhout se stop-tegniek, “stop en proe ʼn potjie”, die koop waarborg, bedreig ʼn ander mededinger die potjie se lokkrag: Kobus se Gat. Agter groot geel vaandels bekoor Kobus se Gat, ʼn gereelde instelling by Aardklop, feesgangers met tradisionele Karoogeregte wat op ʼn oop vuur voorberei word, nes Suid-Afrikaners daarvan hou. Boonop gaan hulle deur soveel roosterkoekdeeg per dag dat hulle al ophou rekord hou het.

“Die roosterkoek lê my na aan die hart, want dit proe soos die stokbrood wat ek altyd as kind by die Voortrekkers gemaak het,” vertel Meghan van der Merwe, ʼn tevrede feesganger.

Natuurlik is daar ook nie ʼn tekort aan goeie Suid-Afrikaanse geelvetbiltong nie en Van der Merwe smul veral daaraan. “Biltong is baie lekker, maar geelvetbiltong vat die koek. Dit het net soveel meer smaak – ek is seker dis hoe die eerste biltong geproe het,” lag sy.

Roosterkoeke by Aardklop. (Foto: Megan Gittins)

Maar dis nie net lekker kos wat feesgangers bekoor nie – ook eg Afrikaanse en Suid-Afrikaanse produkte laat mense hul hand diep in die sak steek. Een so ʼn feesganger, Esther de Jager, is in haar noppies oor al die handgemaakte leerprodukte wat vanjaar by Aardklop te sien is. “Daar is so ʼn groot verskeidenheid handsakke, en die Nguni-velle en -swepe herinner my so aan my oupa se huis op die plaas, maar ek moet vir jou sê, ek is definitief meer opgewonde oor al die vellies!” sê sy.

“As ek aan vellies dink, dink ek aan Afrikaanse mense. Boere hou veral baie daarvan; die leer is duursaam, dis ʼn praktiese skoen wat lank hou en natuurlik is dit vreeslik gemaklik nadat jy dit ingeloop het,” sê Nikita Trosello, verkoopsassistent by die leervervaardiger Mint.

Vellies by Aardklop. (Foto: Verskaf)

Heidi van Staden, verkoopsassistent by Karoo Clothing, hou egter vol dat dit nie net die vellies is wat die Afrikaner omvat nie, maar ook die Nguni-vel wat in die leefgebied of studeerkamer lê. “Wanneer jy ʼn Nguni-vel soek, gebruik jy die hele koei basies daarvoor; jy eet sy vleis en gebruik sy vel óf vir ʼn beddeken óf vir ʼn mat,” sê sy.

“Ek het met Nguni-koeie grootgeword op die plaas in KwaZulu-Natal en om ʼn vel te hê maak my nostalgies vir daai dae,” vertel Sarel Swart, trotse eienaar van ʼn aantal Nguni-velle.

Buiten die smaaklike stokbrood en bosveld-vellies, klop die kuns by Aardklop ook Afrikaans. Anton Gericke se beroemde landskappe, so eenders aan ʼn plaashuis in die Kaap met ʼn windmeul in die agtergrond en ʼn donkiekar aan die verbygaan, omvat nie net Afrikaanse herkoms nie maar ook sy eie.

“Hy [Anton Gericke] het elke aand by die huis gekom en die omgewing waarin hy grootgeword het, geskilder,” sê Hesther Carstens, konsultant vir Alice art. “Boonop het daar ʼn vraag na sy werk ontwikkel. Ek dink Afrikaanse mense wil ʼn gedeelte van hulle verlede vir altyd vasvang en hy doen dit met sy landskappe.”

Hoewel die eetgoed, stalletjies, musiek en boekgesprekke Aardklop verpersoonlik, bly die aangrypende produksies die trekpleister. Vanjaar stel die produksies ook nie teleur nie en is daar iets waarby elke Afrikaner aanklank sal vind.

Donkie, die produksie waarin Frank Opperman die 58-jarige hoof, Barry Swart, van Hoërskool Hans Oosthuizen speel, bied ʼn knippie nostalgie vir alle oudhoërskoolleerders. Nietemin raak dit ook die harde werklikheid oor die gevolge van ʼn onstuimige Suid-Afrikaanse verlede aan. Kamphoer – Die verhaal van Susan Nell delf egter nog dieper in die Afrikaanse geskiedenis, naamlik toe talle vroue in konsentrasiekampe gevangenes was.

Met Aardklop 2019 na aan die einde en ʼn week gevul met biertentkuiers, tradisionele geregte, uit die maag lag en lang trane huil, sien Afrikaners uit na nog só ʼn jaar van Afrikaans vier by Aardklop 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Darem LEKKER om ‘n Afrikaner te wees. Niks verkeerd om te se “dis my mense daai”!

Jonathan ·

Geelvet biltong is oorspronklik van die ouerige beesvleis…slaghuis terme is dit die C-graad silverside…dus tussen C2 en C3 beesvleis.

Budgie ·

Nogal snaaks – nie haha – “klop Afrikaans” en kyk na al die Engels orals.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.