‘Aardklop bied vanjaar iets vir almal’

Bosman Purén, Alexa Strachan en Delmari van Zyl (Foto: Verskaf)

Die Potchefstroomse Aardklop Nasionale Kunstefees wat vroeër vanjaar in kykNET se Fiësta-pryse as gewildste kunstefees in die land aangewys is, duur van 2 tot 7 Oktober en “die program is propvol musiek, teaterproduksies, kos en kuns wat elke smaak sal pas”.

Dié jaar se feestema is “Kom fees jóú plek vol”.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, het by die bekendstelling van die program gesê daar sal ʼn sitplek vir elke smaak wees, of jy nou by ʼn kosstalletjie sit, voor ʼn buitelugverhoog, in ʼn teater óf selfs op ʼn kroegstoel.

Vanjaar spog Aardklop met 27 debuutwerke, onder meer teaterstukke wat insluit Bloed en bodem deur die bekroonde span onder leiding van regisseur Marthinus Basson wat verlede jaar skoonskip gemaak het by die Aardklop-toekennings met Melk en vleis. Sandra Prinsloo en Edwin van der Walt is te sien in My seuns en Bouwer Bosch vat hande met Je-ani Swiegelaar vir die ʼn skreeusnaakse Lykskou.

Die immergewilde Nataniël sal ook sy debuut op die Aardklop-verhoog maak met sy produksie Classic Nataniël, waarin hy onder andere saam met die Charl du Plessis Trio en ʼn strykkwartet gehore sal vermaak.

Vanjaar sal Aardklop ook vier van die TV-kanaal VIA se gewilde sjefs, onder andere Herman Lensing en Annelien Pienaar, verwelkom, wat feesgangers sal trakteer met watertand kookdemonstrasies.

Musiek is volop en groter as voorheen op Aardklop 2018 met kunstenaars soos Coenie de Villiers, Elvis Blue, Touch of Class, Snotkop, Amanda Strydom, Chris Chameleon en Radio Kalahari Orkes wat ʼn vermaakverskeidenheid verseker wat jy nie sommer elders sal vind nie.

“In ʼn neutedop bied ons spyskaart regtig ʼn allegaartjie vol verassings en Aardklop nooi elke feesganger om sy feeservaring self saam te stel: wat ook al jou smaak, styl, voor- of afkeure,” luidens ʼn Aardklop-verklaring.

Aardklop begin op 2 Oktober en ʼn feesterreinkaartjie kos R30 per persoon. Kinders onder 12 kry gratis toegang tot die feesterrein. Produksiekaartjies is van 23 Julie by Ticketpro beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.