Aardklop: Dié produksies is aan’t uitverkoop

KlopKidz (Foto: Verskaf)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees is net een week weg, en vanjaar is produksieverkope reeds 15% meer as dieselfde tyd verlede jaar.

Aardklop, wat van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom plaasvind, bied dié jaar iets vir almal met sy tema, “Kom fees jou plek vol”.

Die toneelproduksies Drie Susters, Operasie Holm, My Seuns, My Vrou se Man se Mannetjie, Soebatsfontein en Toutjies en Ferreira is vanjaar se topverkopers.

Wanneer dit by musiekproduksies kom, het Classic Nataniël, Parlotones & Kie, Elvis Blue-Stories, Pure Coenie en Kiekies-Lucas se Liedjies al die meeste kaartjies verkoop.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, het gesê sy is verbaas oor die goeie kaartjieverkope vanjaar.

“Ek was aanvanklik regtig bekommerd oor kaartjieverkope weens die resessie en ander tendense, maar is werklik aangenaam verras met die stand van sake!”

Drie Susters is die jaar by Aardklop te sien (Foto: Verskaf)

Vanjaar spog Aardklop ook vir die eerste keer met KlopKidz, wat die kinders gedurende die fees sal vermaak. Bekendes soos Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck, Jannie du Toit en Anna Davel sal sorg vir hierdie vermaak.

“Ek word oorval deur mense wat jare laas by Aardklop was en wat laat weet dat hulle weer terugkeer na die fees toe. Ek glo dis omdat ons die gewildste fees in die land is en dat mense as gevolg daarvan positief en aan die gons is oor die fees.

“Ek dink benewens die opwindende program het ons ook allerlei nuwe projekte by die fees wat hiertoe bydra,” het Strachan gesê.

Kaartjies vir Aardklop kan by die hek gekoop word teen R30 vir dagkaartjies en R75 vir weekkaartjies. Produksiekaartjies kan by Ticketpro gekoop word. Vir meer inligting besoek www.aardklop.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.