Aardklop-doodsklok kan ʼn nuwe deuntjie inlui

aardklop-stigting-logo-01Die Aardklop-debakel het pas ʼn nuwe loop geneem toe ʼn groep wat bekendstaan as die “Aardklop-belanghebbendes”, Sondag in Stellenbosch vergader het met die oogmerk dat die Aardklop-kunstefees moet voortleef en dat die fees wat beplan is vir 4 tot 8 Oktober, steeds moet plaasvind.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV en woordvoerder van die groep, het gesê hulle het onmiddellik ʼn afspraak gemaak met adv. Louise Barretto, voorsitter van die Aardklop-direksie, om die redes waarom die fees beëindig is, uit te pluis. “Ons het geen inligting oor die redes waarom hulle die fees beëindig het of insae in hulle finansiële state nie,” het Gouws gesê. “Ons onmiddellike plan is om agter die kap van die byl te kom en die saak van daar af te vat.”

Die beëindiging van die Aardklop Nasionale Kunstefees, die fees wat die afgelope 18 jaar klokslag saam met die lente op Potchefstroom opgedaag het, het skokgolwe deur die Afrikaanse kunstefeesgemeenskap gestuur. Barretto het einde verlede maand per persverklaring aangekondig die fees “gaan met onmiddellike effek in die huidige formaat gestaak word”.

In reaksie op dié besluit het ʼn groep van tien Sondag by die US Woordfees in Stellenbosch byeengekom om die pad vorentoe te bespreek. “Die groep is in wese eerder nader aan ʼn honderd maar ons tien wat vir die Woordfees in Stellenbosch was, het toe vergader,” het Gouws gesê.

Die groter groep bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Noordwes-Universiteit, die Tlokwe-stadsraad, stigtersborge, ander borge, kultuurorganisasies, die media, kunstenaars, oud-direksielede en ander belanghebbendes.

“Daar is soveel positiwiteit en welwillendheid,” het Gouws gesê. “Die groep is dit eens dat daar oor die afgelope 18 jaar soveel in die Aardklop-fees en Aardklop-handelsmerk belê is, dat ons nie die aankondiging goedsmoeds kan aanvaar nie.”

Dat Aardklop die afgelope paar jaar dit moeilik gehad het, is nie ʼn geheim nie. Die kunste het swaargekry en geld was nie oral volop nie.

Twee jaar gelede het Marguerite Robinson, programbestuurder van Aardklop, gesê “dit is finansieel ʼn ‘moeilike’ jaar vir kunstefeeste – van die organiseerders tot die feesgangers en die kunstenaars”. Sy het na die afname in produksies op die 2014-fees as ʼn “slagting” verwys.

In 2007 het Absa sy borgskap van die afgelope vier jaar vir Aardklop beëindig. Die bank het toe vir Aardklop R1,4 miljoen as ʼn eenmalige “verjaardaggeskenk” gegee toe die fees tien jaar oud geword het.

In 2011 het die fees ʼn kontrak met Clover gesluit en dié het R30 miljoen oor die volgende vyf jaar as naamborg in die fees belê. “Clover het die fees tot nuwe hoogtes geneem en ʼn reuse-aandeel gehad in Aardklop se sukses,” het Andries Vrey, uitvoerende hoof van die fees, in die persverklaring om die einde van die fees aan te kondig gesê.

In dié opsig het Aardklop dieselfde opdraande stryd gehad as die ander kunstefeeste in die land. “Van die gevolge van die huidige ekonomiese klimaat is kleiner kommersiële borgskapsbegrotings en ʼn daling in die prys van borgskappe,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn aanbied. “Kunstefeeste, as leefstylprojekte, ding boonop met sport om borgskappe mee. Daar is verskillende redes daarvoor, maar die kunste staan beslis agter sport in dié ry.”

Maar selfs sport sukkel tans om borgskappe te kry, sê Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees in Stellenbosch. “Die Curriebeker-naamregte is vir ʼn appel en ʼn ei verkoop. Die Afrikaanse kunstebedryf het nog altyd lojale ‘Afrikaanse geld’ gehad wat hulle ondersteun, maar weens die kontroversie rondom Afrikaans is korporatiewe maatskappye minder vrygewig as in die verlede.”

Die grootste bron van skok en verontwaardiging oor die aankondiging dat Aardklop gestaak word, is egter die feit dat die belanghebbendes – onder meer Potchefstroom en sy gemeenskappe in die algemeen, die universiteit, asook op die kunste en kunstenaars in die breë, nie behoorlik in ag geneem is nie.

Karen Meiring, uitvoerende hoof van kykNET en van 1999 tot 2007 uitvoerende hoof van die KKNK, het die besluit van die direksie beskryf as “ʼn handdoek-ingooi-besluit” omdat daar duidelik nie toewyding was om oplossings te vind vir die fees op Potchefstroom, saam met die mense en belanghebbendes van Potchefstroom nie. “As jy nie deel is van enige van die gemeenskappe nie, maar op ʼn direksie sit waarin jy hulle moet verteenwoordig – is dit maklik om net weg te stap. Jy gaan eenvoudig net terug na jou eie huis toe in ʼn ander dorp of stad,” sê Meiring.

Sy meen die gasheergemeenskappe van feeste moet sorg dat hulle en hul belange beskerm word deur teenwoordig en betrokke te wees op feesdireksies en -rade, “anders kan dit moontlik die kaping van die fees tot gevolg hê – soos nou die geval blyk te wees met die Aardklop nasionale kunstefees se maatskappy”. Meiring het benadruk dit het 22 jaar geneem om die feestekringloop te bou. “Om een van die groot steunpilare in hierdie ekostelsel te laat omval, bring ʼn mens tot die besef dat dit alles in een ondeurdagte besluit deur ʼn kortsigtige, onbetrokke direksie tot niet gemaak kan word.”

Dewald van Breda, voorsitter van die Potch-Tlokwe Sakekamer, wat ook die vergadering in Stellenbosch bygewoon het, het bevestig dat die besluit glad nie met die sakegemeenskap bespreek nie. “Ons sien dit as die direksie se onvermoë om deursigtig te handel en slegs in eiebelang op te tree.”

Die afgelope 18 jaar het verskeie sektore van Potchefstroom by Aardklop gebaat. Benewens venters van elders wat hul ware na die fees bring, was dit onder meer sake-ondernemings en gastehuise wat flink sake gedoen het rondom die feesweek in Oktober. Volgens Van Breda word die inkomste vir Potchefstroom in die omgewing van R50 miljoen bereken en is daar sakeondernemings wat dit sien as tot soveel as 40% van hul jaarlikse inkomste.

Hoe ʼn mens ook al verlies bepaal, dit is die kunste en kunstenaars wat die grootste verloorders is as ʼn kunstefees sy deure toemaak.

Hoewel die Aardklop-feesprogram dissiplines soos musiek en die visuele kunste ingesluit het, wil dit voorkom asof die toneel-aanbod die nadeligste getref is. Miskien juis omdat Aardklop in bykans twee dekades daarin geslaag het om verbluffende en soms omstrede verhoogproduksies aan te bied – talle daarvan opdragproduksies.

Dink byvoorbeeld maar aan die aanbod in 2010 met verskeie kragtige verhoogproduksies: Die kortstondige raklewe van Anastasia W van Marlene van Niekerk met Marthinus Basson as regisseur; As die broek pas, ook met Basson as regisseur; Dood van ʼn verkoopsman met Bobby Heany as regisseur; Deon Opperman se Magspel; Ingrid Winterbach se dramadebuut, Spyt; en Slap Koejawel [adj. Slack noun Guava] & Other Tit Bits, ʼn juweel met Vansessa Cooke en Annelisa Weiland op die verhoog.

“Die KKNK en Aardklop was lank die enigste feeste wat geld belê het in nuwe werk,” sê Hugo Theart, vervaardiger produksies soos macbeth.slapeloos en kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk. “Aardklop het kanse gewaag. Aardklop was bekend vir uitdagende en vooruitstrewende produksies. Aardklop het grense verskuif en die ontwikkeling van nuwe eg Afrikaanse werk aangemoedig en ondersteun. Aardklop sal ook ʼn groot leemte laat vir gehore en ʼn voedingsgebied wat andersins bitter min geleentheid of blootstelling kry om teater en kuns te sien.”

Maar miskien het die emosie rondom die boodskap dat Aardklop gestaak word en die onduidelikheid oor die hele affêre die moontlikheid van innovering, soos deur die Aardklop-direksie voorgehou, heeltemal oorheers. “Daar word gekyk na die ontwikkeling van nuwe inisiatiewe wat ʼn dinamiese bydrae kan lewer tot die behoud, ontwikkeling en ondersteuning van die uitvoerende kunste,” het die direksie se verklaring gelui.

In ʼn onderhoud op Prontuit, ʼn program op kykNET, het Barretto belanghebbendes genooi om met die direksie in gesprek te tree oor ʼn “nuwe model” vir Aardklop.

Wat sou belangrik wees in die oorweging van só ʼn nuwe model?

Een van die probleme in die kunstebedryf waarop Theart wys, is die opvatting dat kunstenaars nie “regte werk” het nie. “Om kunstenaar te wees ís ʼn voltydse beroep,” benadruk hy. “Waarom word daar nie belê in meer permanente strukture sodat kunstenaars in ons land salarisse kan verdien en stabiliteit en standvastigheid kan kry nie,” vra hy.

“Dit is nie ʼn stokperdjie nie, dit is ʼn bedryf,” het Meiring bygevoeg.

Volgens Meiring is feeste nie verantwoordelik vir die omsien na meer inkomste-strukture vir kunstenaars nie, “maar by implikasie sal nouer samewerking tussen feeste, teaters en ook nou NATI (die nuutgestigte Nasionale Afrikaanse Toneel Inisiatief van die Dagbreek Trust), dit bewerkstellig. Feesdireksies en besture moet die groter prentjie van die bedryf en kultuur wat hulle bedien raaksien, maar ook hulle rol in die sensitiewe ekostelsel met verantwoordbaarheid besef en met toewyding en passie bly implementeer.”

ʼn Paar jaar gelede het die teaterregisseur Marthinus Basson al ʼn lansie probeer breek vir iets van ʼn “ekostelsel”, wat behels dat feeste saam moet beplan vir die lang termyn en saam ʼn visie moet ontwikkel. “Die feeste het tans geen langtermyn-beleggingsplanne vir die ontwikkeling van die kunstenaars wat – moet dit nie vergeet nie – die feeste moontlik maak,” het hy in 2013 in ʼn onderhoud gesê.

Sy voorstel was toe dat feeste saam ʼn geselskap skep wat lewensvatbaar kan wees en groei buite die raamwerk van die feeskonteks en wat werk kan opvoer in al die teaters wat leeg staan in die land.

Dalk is dit in hierdie rigting waarin daar nou eindelik gedink kan word.

“Organiese inklusiwiteit kan bewerkstellig word deur onder meer produksies ook in die ander streekstaal van die fees aan te bied. Ons het talle entrepreneurs in die bedryf wat geleenthede bly skep,” is Meiring se mening. “Ons het kulturele entrepreneurs nodig wat dit kan doen vir die feeste.”

  • Johan Myburg is ‘n onafhanklike kunsskrywer wat in Johannesburg woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DMC de Koker ·

Dis maar net my beskeie mening maar aardklop is geensins ‘n kunstefees nie. Dis eerder ‘n suip, hoereer en godslasteringsfees. (gaan kyk gerus self wie en hoeveel is by die kuns en wie en hoeveel is by drinkplekke). As Potchefstromer is ek bly die ding is dalk oor die muur. Minder ongelukke, minder bakleiery en minder dronkmense in Potch daardie week. Om nie te praat van verkeer wat beter sal vloei nie.

Loon ·

DMC,
Baie van ons hier in die Vrystaat voel dieselfde oor die Bielie Mielie fees na Februarie se fees wat gehou is.
Ek het in my lewe nog nooit so n gevloek van n seremonimeester beleef vanaf die verhoog nie, en duidelik was hy ook maar lekker onder die prop! Met n kind van 4 jaar wat heeltyd vir my vra hoekom vloek die oom so, het ek maar besluit om maar in die toekoms weg te bly.
Verder is alles net te duur, hoekom iets koop as ek dit eerder goedkoper kan koop by n winkel?
Neewat dit is maar nie meer die moeite werd nie.

Johann Marx ·

Verlede maand het 50 multi-miljoenêrs die land permanent verlaat weens Jakoppie se kaskenades met ons ekonomie. En so sal alles inmekaar plof tot daar niks oor is nie. Die “feeste” is maar die begin…..Daar is hopeloos teveel “kunstenaars” om die geldjies te deel wat uit die verbruiker se sak gesuig kan word, en, net soos met die belasting-basis, is daardie verbruikers vuisvoos en hulle getalle aan die afneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.