Aardklop: Soebatsfontein – die dinge wat ons lankal moes sê

Sandra-en-Franci-001.jpg

Franci Swanepoel en Sandra Prinsloo (foto verskaf)

Daar is min dinge in hierdie lewe so lekker soos om die langpad aan te durf saam met ʼn hartsvriend of vriendin. Om oor dié dinge te kan gesels en lag wat ander nie noodwendig verstaan nie. Soms is dit daardie onbeplande afdraaipad wat die reis onvergeetlik maak.

In die produksie Soebatsfontein word elke teaterganger op so ʼn reis geneem. Katrien (Sandra Prinsloo) en Emma (Franci Swanepoel) is op pad na Emma se dogter se kombuistee in die Kaap. Hulle besluit om die langpad aan te durf en deur die afgeleë binneland te ry, eerder as net die gewone ou paaie te neem. Katrien is ʼn ongetroude fotograaf vir wie die langpad en afdraaipaaie nie vreemd is nie. Dit is juis as gevolg hiervan dat Katrien en Emma hulle in Soebatsfontein bevind.

In ʼn ou, afgeremde hotelkamer begin die werklike toneelspel. Katrien en Emma kom al jare saam, hulle ken mekaar goed, lag saam en deel graag ʼn “cocktail” of ʼn skemerkelkie, soos Emma jou sou reghelp. Wanneer die slot van die kamerdeur breek, en hulle binne vasgekeer word, syfer dit wat deur die jare ongesê gebly het, na die oppervlak. Soms is dit juis daardie dinge wat jy nooit sê nie wat ʼn vriendskap bou.

Daar is verskeie kinkels in die kabel van hulle vriendskap en die dialoog hou jou op die voorpunt van jou stoel. Soebatsfontein is ʼn hardlag-, saamhuil- en vriendskapbouende produksie. Dit is die perfekte teatervertoning vir vriende om saam te kyk.

Dit is juis in hierdie intieme oomblikke dat ons elkeen besef daar is dinge wat ons lankal moes sê.

Met: Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel
Teks:  Annemarie van der Walt
Regie en Ontwerp:  Philip Rademeyer
Verhoogbestuur: Lize van Rooyen
Vervaardiger:  Giep van Zyl

Kom beleef die avonture van Katrien en Emma by Aardklop 2018. Soebatsfontein kan op die volgende dae gesien word by kykNET Gimmies-saal:

  • 2 Okt 16:30
  • 3 Okt 13:00
  • 4 Okt 13:30
  • 5 Okt 09:30
  • 6 Okt 20:00

Aardklop vind vanaf 1 tot 6 Oktober plaas.  Vir meer inligting besoek gerus hul webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.