Afrikaanse Kultuurfees in Richardsbaai aangebied

kultuurfeesSolidariteit Helpende Hand se tak in Richardsbaai bied op 30 November ʼn Afrikaanse Kultuurfees in dié dorp aan.

“Ons hou ‘n kultuur- en kunsfees met tradisionele vermaak soos Volkspele, Boeremusiek, Afrikaanse plaaslike kunstenaars, Boeresport, potjiekos-, skoonheids-, en sterkmankompetisies, skattejag en ʼn tombolatafel,” het Pieter de Beer, voorsitter van die tak, gesê. Feesgangers kan ook uitsien na tradisionele kosse soos koeksisters, toffieappels, spookasem, gemmerbier, biltong, vars produkte en wildvleis.

“Ons samel regdeur die jaar fondse in en ons het reeds in 2012 die eerste Afrikaanse Kultuurfees gehou. Ons wil vanjaar weer aan die gemeenskap die geleentheid bied om hul produkte en hul besighede te bemark. Ons bied ook die geleentheid aan jong kunstenaars om hul stempel af te druk in die musiekbedryf.”

Die fees het ook sy eie Idols-sangkompetisie en die wenner van dié kompetisie kan uiteindelik ʼn kontrak losslaan om ʼn CD op te neem. Plaaslike kunstenaars soos Priscilla Rausche, een van ons land se beste country-sangeresse en ook Jaco Nortje, wat al die Golden Oldies-treffers sing, is ook by die fees te sien.

Zane Ison, ʼn bekende in sterkmankompetisies wat Suid-Afrika in Hongarye gaan verteenwoordig en vier wêreldrekords gebreek het, is ook by die kultuurfees betrokke.

Van babas tot oumagrootjies kan aan die onderskeie skoonheidskompitisies deelneem.

Feesgangers gaan groot pret hê met die Boeresportkompetisie waar jy die hele Richardsbaai kan beïndruk met jou vaardighede in die sakresies, eiergooi- en toutrekkompetisies. Die potjiekoskoning sal ook dié dag aangewys word.

Toegang vir die fees is R10-00 per volwassene en R5-00 per kind ouer as twee. Inskrywings vir die Boeresport-kompetisie beloop R20-00 per persoon, en jy kan teen R10-00 per persoon deelneem aan die toutrek. Jy kan jou potjie vir R20-00 inskryf. Die sterk manne moet R100-00 elk betaal om hul staal te wys. Inskrywings vir die skoonheidskompetisie is ook R100.00 per inskrywing. Jy kan verniet aan die Idols-kompetisie deelneem.

Uitstallers betaal R50-00 vir ʼn stalletjie in die vlooimark en groot uitstallers betaal R500-00 per staanplek. Die dorp se nie-winsgewende organisasies, kerke en skole kan gratis hulle stalletjies opslaan.

Waar: Richardsbaai-rugbyklub (reg oorkant die polisiestasie)
Wanneer: Saterdag, 30 November 2013 van 09:00 (uitstallers kan reeds om 07:00 opslaan)
Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.