Afrikaanse musikant vir besonderse bydrae vereer

Pieter van der Westhuizen. Foto: Ashley Manuel

Hercules Pieter van der Westhuizen (87) het Vrydagaand die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek ontvang vir sy groot bydrae tot veral die Afrikaanse koormusiek.

Hy het wyd bekend geword vir die groot aantal koorwerke wat hy in Afrikaans geskryf het, vir sy toonsetting van FAK-liedjies, en vir die buitengewone bydrae wat hy gelewer het in die totstandkoming van die 1978-Psalm- en Gesangboek  sowel as die 2001-Liedboek van die NG kerk waarvan hy 12 liedere gekomponeer het.

Evelyn Ferreira, wat tans op ʼn deeltydse basis by die FAK betrokke is as kultuuradviseur en -navorser, het die toekenning aan Van der Westhuizen in Stellenbosch in die Wes-Kaap oorhandig.

Ferreira het as student die voorreg gehad om in die Stellenbosch-Sentraal Kerkkoor onder leiding van Van der Westhuizen te sing.

“Oom Pieter, soos hy onder studente bekendgestaan het, het as begaafde musikant, komponis, orrelis en veral as Christenmens ʼn groot indruk op mense gelaat,” het Ferreira tydens die glansgeleentheid gesê.

“Hy was vir baie ʼn rolmodel. Sy invloed op orreliste, koorleiers en koorsangers  was van onskatbare waarde, veral wat betref die bevordering van die Gereformeerde kerklied in Afrikaans en die waardering van goeie kerkmusiek in die algemeen. Sy oudstudente en oudkoorlede het net die hoogste agting vir hierdie besondere mens.”

Van der Westhuizen is ʼn gebore Vrystater. Hy het reeds op vyfjarige ouderdom onder die leiding van sy ma begin om klavier te speel, op Wepener en in Bloemfontein skoolgegaan en aan die Universiteit Stellenbosch (US) musiek, veral orrel en klavier, gestudeer.

Nadat hy ʼn paar jaar skoolgehou het, was hy van 1965 af dosent aan die US. Hy presteer as koorleier met jeugkore, massakore en operakore. Van der Westhuizen het ook Bellville se Koorvereniging gestig wat saam met die Kaapstadse Stadsorkes opgetree het.

Die kerkkoor van die NG Kerk Stellenbosch-Sentraal het onder sy leiding tot een van die artistiek-sterkste kore in Suid-Afrika ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Wentink ·

Ek was bevvoorreg om saam met oom Pieter te kon werk in 2007. Wat ’n pragtige gebaar deur die FAK, en welverdiend. Oom Pieter is voorwaar ’n kultuurman van formaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.