Agri Megaweek

14-16 September 2011

Die jaarlikse Agri Mega Week op Mega Park, buite Bredasdorp in die pragtige Overberg, Wes-Kaap, groei steeds en beloof hierdie jaar se Ekspo dan ook om alle verwagtinge te oortref. Gefokus op die kleingraan-, suiwel-, vee- en wolbedrywe en met die tema: Landbou vir die Mense, word ieder en elk – jonk en oud – uitgenooi om deel te wees van ‘n opwindende propvol program. Kom besoek ons gerus van 14 – 16 September en kom deel in al die opwinding.

Mega Park ontwikkel tans tot ‘n volwaardige gemeenskapspark met topgehalte uitstalsentrums en ander fasiliteite. In 2010 is die BKB Veesentrum van meer as 6 000m2 uitstalarea in gebruik geneem, en vanjaar word dit aangevul met die splinternuwe Total Uitstalsaal van 1 000m2.

Die hoogtepunt op vanjaar se program is gewis die aanbieding van die gesogte Merino Classic, die grootste byeenkoms vir Merino-telers jaarliks, waar verskeie veldstoeterye en kuddes beoordeel word, vagkompetisies plaasvind en ook vele ander aktiwiteite soos ‘n modeparade beplan word.

Wat hou Agri-Megaweek vanjaar vir my in?
Die tema van vanjaar se ekspo Landbou vir die Mense, sal pertinent aandag geniet in die aanbiedings en geleenthede wat beplan word. So wat beteken hierdie tema in praktyk en hoe relevant is dit vir ‘n ekspo gefokus op die kleingraan-, suiwel, vee & wolbedrywe? Eenvoudig gestel gaan landbou vir die mense oor:

Die brood in jou kosblik
Graan en spesifiek kleingraan-aangeleenthede word tydens Agri Mega Week ontbloot vir produsente sowel as verbruikers. Behalwe vir talle uitstallers van planters, stropers, balers en vele meer kan jy ook met graanbemarkers idees uitruil. Graan SA het ook hul gebruiklike gastetent waar produsente skouers kan skuur met die kommoditeitsorganisasie se bestuur. Vir die verbruiker bring die demonstrasie van implemente die produksie van graan na vore, maar daar word ook beplan om ‘n plaasmark met onder andere vars brood, konfyt, plaasbotter en als wat lekker is te koop aan te bied.

Die wolbaadjie wat jy aantrek
As kwaliteit kledingstukke vir jou ononderhandelbaar is, moet jy beslis nie die Merino Classic wat tydens Agri Mega Week gehou word, misloop nie. Hierdie is nie sommer enige skou nie, maar ‘n nasionale gebeurtenis waar die toonbeeld van gehalte wolproduksie gestalte kry in ‘n verskeidenheid van aktiwiteite, veld en kuddeskoue, vagkompetisies, ‘n modevertoning van Merino-wol kledingstukke, ‘n potjiekoskompetisie en vele meer is op die spyskaart vir vanjaar se Merino Classic, moet dit beslis nie misloop nie.

Die melk wat jy drink
Die suiwelbedryf vorm ook, soos altyd, ‘n belangrike komponent van Agri Mega Week en vanjaar is geen uitsondering nie. Die Wes-Kaapse Jersey Kampioenskap, Suid-Kaapse Ayrshire Kampioenskap en die immergewilde “Queen of the Expo” interras suiwelkampioenskappe is maar enkele van die hoogtepunte waarna besoekers kan uitsien. Vir die jonger verbruiker bied die MPO Wes-Kaap ook ‘n skolemelkprogram aan. Produsente wat lede van die MPO is verkry gratis toegang en spesiale parkering om die ekspo by te woon en ‘n gebruiklike suiwel werkwinkel met top-sprekers word ook vir vanjaar se Agri Mega Week beplan. Moet ook nie uit mis op hoefversorginsdemonstrasies, ‘n jeugskou en besoeke aan verskeie diens en produkverskaffers in die suiwelbedryf nie.

Die vleis wat jy braai
Dis nie net slegs die Merino’s wat by vanjaar se Agri Mega Week gaan pronk nie, maar ander skaaprasse sal ook in skoue en uitstallings te siene wees. Verder kan besoekers onder andere na vleisbeesrasse, nadoodse ondersoeke op beeste en skape, en uitstallings van verskaffers in die klein- en grootveebedrywe kom besigtig en hulself vereenselwig met die aktiwiteite van die rooivleisbedryf. As jy nie dink aan die vleisie wat jy oor die kole wil gooi nie, maak jou gereed om die gewilde Plaaswerf, met pragtige plaasdiere, groot en sommer nog baie klein, te kom beleef. Die pluimveebedryf bly ook nie agterweë nie en die gewilde Agri Mega Week pluimveeskou, word weer vir vanjaar beplan, so skud solank jou vere reg hiervoor.

Die werk wat jy doen
Agri Mega Week is ‘n ware vertoonforum vir landbou en daar is nog vele ander aktiwiteite waarna besoekers vanjaar kan uitsien. Dit is ook ‘n platform vir interaksie, en poog om produsente, plaaswerkers, opkomende boere, insetverskaffers, landboubesighede en regeringslui bymekaar te bring vir sinvolle gesprekke oor die bedryf wat soveel meer as net werk verskaf, maar ook die lewensmiddele van verbruikers. ‘n Spesiale jeugkonferensie is ook in die pyplyn – kyk gerus uit hiervoor!

Uistallers se besprekings word ingewag, spring gou om ‘n prominente staanplek te verseker. Vir meer navrae skakel gerus vir:
Reinette Basson, Mega Events
021 863 0397
[email protected]

Adverteerders in die jaarlikse amptelike Agri Mega Week Ekspo Publikasie moet vinnig spring om uistekende blootstelling te verseker. Vir meer navrae skakel gerus vir Chris of Gerda Kriel, Agri Promo:
044 272 8149
[email protected];
[email protected]

Vir die bespreking van ‘n advertensie en/of uitstalperseel voltooi asb die
Besprekingsvorm en faks dit na:
086 696 6542

Die Agri Mega Week vind plaas op Mega Park, Swellendamweg, Bredasdorp, Wes-Kaap.Naaste vliegveld: Andrew’s Field, Lat: 34° 45′; Lon: 20° 02’. Vir meer inligting kontak Andrew Burger by [email protected] of 082 573 1495

Kom besoek ons en ervaar egte plattelandse gasvryheid uit die boonste rakke. Agri Mega, as amptelike aanbieder van hierdie ekspo, nooi u vriendelik uit om deel te wees van hierdie grootse geleentheid. Agri Mega Week bied jou meer as waarop enige ander landbou-geleentheid in die Wes-Kaap tans kan aanspraak maak. Mega Events, ‘n filiaal van die Agri Mega Groep, wat spesialiseer in die organisering van landbougeleenthede, soos ekspo’s, seminare en allerlei funksies, organiseer ook hierdie reuse-geleentheid in Bredasdorp.

Toegangsfooi: Volwassenes R25, Kinders 12jr en jonger: R10

Besoek hulle webtuiste hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.