Anna Potgieter: ‘Ek het op 39 kuns begin swot’

Anna Potgieter (Foto: Verskaf)

“Ek het een middag tydens my kunsles hardop gewens dat ek eerder kuns gaan swot het,” vertel Anna Potgieter, wat huishoudkunde en later onderwys in Potchefstroom studeer het. “My kunsjuffrou, Elsie van der Westhuizen, het hierop gevra waarom ek dit nié kan doen nie.”

Potgieter se besluit was nie blote impulsiwiteit in haar middeljare nie.

“My liefde vir kuns kom van kleins af,” vertel sy. “Ek het nooit opgehou om kunslesse te neem nie.” Sy het toe op 39 besluit om haar droom te volg en vir ʼn graad in visuele kuns by Unisa ingeskryf.

Potgieter vertel dat kuns destyds nog nie as kwalifikasie aangebied is nie en daarom het sy op huishoudkunde en onderwys besluit.

“Ná universiteit het ek begin skoolhou en sedertdien in verskeie fases en vakgebiede klas gegee,” vertel sy. Dit sluit onder meer grondslagfase, intermediêre fase, waar sy wetenskap en huishoudkunde gegee het, in, asook remediërende onderwys by die Gateway Skool in Ruimsig, Roodepoort. Sy help steeds by dié skool uit wanneer sy tyd het.

Potgieter het pas haar honneursgraad in visuele kuns voltooi en met die louere weggestap. Sy is as die topstudent aangewys en het boonop drie merietetoekennings vir haar finalejaarsuitstalling, getiteld “Godsman”, ontvang.

“Hoewel daar fynere detail is waarmee ek nie heeltemal tevrede is nie, is ek trots op die eindproduk.” Potgieter beoog om volgende jaar met haar meestersgraad voort te gaan.

Potgieter meen dat die besluit om deurentyd kunsles by te woon haar in staat gestel het om ʼn eie, unieke styl te ontwikkel. Sy het ook bewondering vir ander kunstenaars, soos Wim Botha.

“Botha is bekend vir sy post-moderne herinterpretasies van godsdienstige ikonografie wat gemotiveer word deur ʼn bekommernis vir historiese stelsels van voorstelling en visuele kommunikasie.

Anna Potgieter (Foto: Verskaf)

“Deur middel van sy werk ondersoek hy die verlede asook die huidige begrip van ʼn godsdienstige ‘waarheid’ en die manier waarop ‘waarheid’ in visuele terme aangebied word,” verduidelik Potgieter.

Potgieter wil met haar finalejaarsuitstalling vir mense ʼn bril opsit waarmee hulle krities na aspekte van die Afrikaner se geskiedenis, soos godsdiens en politiek, kyk. Haar doel is nie om ʼn persoonlike mening of standpunt te verkondig nie, maar om mense toe te laat om hul eie beeld te vorm.

Potgieter is die oudste van vyf dogters van Willie en Retha Marais. Sy vertel dat hulle met sterk norme en waardes grootgemaak is en dat sy gewortel is in haar Afrikanerkultuur.

“Ek en my pa het altyd Geloftedag gevier. As klein dogtertjie kon ek nie altyd alles verstaan nie, maar vandag is ek dankbaar dat ek die viering saam met my pa bygewoon het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine de Kock ·

Jy is ‘n inspirasie Anna. “A thing of beauty is a joy forever”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.