2016: Verlief, verloof, getroud en meer

Argieffoto (Foto: NGDPhotoworks, Pixabay)

Argieffoto (Foto: NGDPhotoworks, Pixabay)

Die ooievaar was vanjaar behoorlik doenig onder die plaaslike bekendes! En dan is daar ʼn hele paar wat verloof geraak of die knoop deurgehak het.

Ons vra voorlopig om verskoning indien ons enigiemand oorgeslaan het – dit was definitief nie ons bedoeling om enigiemand uit te laat nie. Hier is ‘n paar van die feesvieringe waaroor ons op Maroela Media berig het.

Hier was die ooievaar doenig:

Rolanda Marais en haar man, Jozua Malherbe, het begin Desember hul eersteling, Charlotte James Malherbe, verwelkom.

Die Afrikaanse aktrise Angelique Gerber en haar man, die rugbyspeler Jacques Potgieter, het in November hul eersteling, ʼn seuntjie, in die wêreld verwelkom. Klein Jacques is in Japan gebore. Die glanspaar het in Julie vanjaar hul swangerskap aangekondig nadat hulle op 11 Junie die knoop op die Eureka-wynlandgoed net buite Durbanville in die Wes-Kaap deurgehak het.

Die Afrikaanse rocker Francois van Coke en sy vrou, Lauren Badenhorst, het ook vir die eerste keer ouers geword in November.

Die akteurspaar Altus Theart en Zetske van Pletzen het einde September hul seuntjie, Alexander, in die wêreld verwelkom.

Die sanger Gerhard Steyn het op moedersdag aangekondig dat sy vrou, Zelri, op 14 April die lewe geskenk aan baba Zardi. Sy is op 33 weke gebore en het net 1,2 kg by geboorte geweeg. Die egpaar is op 1 Junie 2013 getroud.

Die gewilde Afrikaanse sanger en voormalige lid van Eden, Jay du Plessis, en sy vrou, Mia, het in November ʼn vierde seuntjie, Jamie Ryan, ryker geword. Die egpaar is in Augustus 2009 getroud en het reeds drie woelwaters, Aiden (8), Luka (2), en Samuel (6).

Die gewilde radio-omroeper en grapjas, Darren ‘Whackhead’ Simpson, het in Augustus vir die tweede keer pa geword.

Die Afrikaanse sanger en voormalige lid van die musiekgroep Romanz, Adam Barnard, het einde November vir die eerste keer pa geword van ʼn skattige babadogtertjie.

Die Suid-Afrikaanse supermodel, Candice Swanepoel (27), en haar verloofde, Hermann Nicoli, het hul babaseuntjie in Oktober in die wêreld verwelkom.

Die Afrikaanse sanger Kurt Darren en sy vrou, Dunay Nortjé, het in Oktober hul tweede kind in die lewe verwelkom.

Die Afrikaanse gospelsanger, Retief Burger, en sy vrou, Isabel, het op 17 Mei hul babaseuntjie in die wêreld verwelkom.

Die sanger en aktrise, Sorina Erasmus, in die vermaakbedryf ook bekend as Die Flooze, en haar man Braam Riekert het in Maart hul tweede kind, ʼn dogtertjie, verwelkom.

Hulle het verloof geraak:

Die akteur Erik Holm het sy akteursmeisie Tinarie van Wyk-Loots in November die jawoord gevra. Die paartjie is al vir sowat twee jaar in ʼn verhouding nadat hulle glo ogies vir mekaar begin maak het toe hulle albei in die produksie Dogma op die verhoog verskyn het

Die gewilde Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld het in September verloof geraak aan die voormalige rugbyspeler, Joe Breytenbach. Karlien is in Oktober 2015 van die voormalige rugbyspeler Derick Hougaard geskei. Die twee het tweeling-seuntjies wat op 19 Desember 2013 gebore is.

Die bekroonde sangeres Charlize Berg het verloof geraak aan haar kêrel van agt jaar, Warren Linden. Die twee het op 16 September verloof geraak op die dak van die Bank Towers in Pretoria.

Die gewilde kykNET-aanbieder en aktrise Therese Benade het begin Desember haar verlowing aangekondig.

Hulle het getrou:

Die minnesanger Rudi Claase, bekend as een van die lede van die gewilde musiekgroep Die Lieflinge, het in September tydens ʼn intieme geleentheid met sý liefling, Suzette Booysen, afgehaak. Hulle het einde 2015 verloof geraak ná hulle in 2014 deur ʼn gemeenskaplike vriend ontmoet het.

Die Binnelanders-akteur, Clinton Brink, wat bekend is vir sy rol as dr. Steve Abrahams in dié hospitaaldrama, het in Augustus die knoop deurgehak met die Namibiese skoonheid, Steffi van Wyk.

Die gewilde Afrikaanse kletsrymer en omroeper, Hemelbesem, het in Mei die knoop deurgehak met sy mede hip-hop-kunstenaar, YOMA.

Lees alle soortgelyke stories oor die Terugblik op 2016 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.