25 invloedrykste mense op die internet aangewys

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Alexi Lubomirski)

Prins Harry en Meghan, Ariana Grande, Donald Trump en Cardi B is pas deur die bekende Amerikaanse saketydskrif Time Magazine as van die invloedrykste mense op die internet aangewys.

Time Magazine stel reeds vyf jaar lank ʼn ongenommerde lys bekend van die 25 mense, groepe of sosialemediabladsye wat ʼn groot impak op die wêreldwye internet-gemeenskap het. “Time evalueer aanspraakmakers deur te kyk na hul globale impak op sosiale media en hul algehele vermoë om nuus te dryf,” beskryf die tydskrif die proses.

Vanjaar het bekendes soos die sangers Ariana Grande en Cardi B oudergewoonte die lys gehaal, maar die lys bevat ook die name van verskeie mense en groepe wat sosiale media gebruik om die aandag op sosiale kwessies te vestig.

Hier is die 25 invloedrykste mense op die internet:

Lil Nas X (Foto: Instagram)

Lil Nas X is ʼn kletsrymer wat onlangs die liedjie “Old Town Road” saam met Billy Ray Cyrus opgeneem het. Hy was ook onlangs in die kollig toe hy bevestig het hy is homoseksueel.

Alexandria Ocasio-Cortez is ʼn junior lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers en was ingehuldig as die jongste vroulike kongreslid in die VSA.

President Donald Trump het sy aanlyn teenwoordigheid die afgelope jaar opgeskerp. Trump het veral sy massiewe aanlyn teenwoordigheid gebruik om spesiale ondersoeker adv. Robert Mueller te kritiseer oor sy veldtog se verbintenis met Rusland.

Die Suid-Koreaanse musiekgroep BTS het miljoene aanhangers wat hulself “ARMY” noem. BTS se musiekvideo vir hul liedjie “Boy With Luv” het ʼn rekordgetal van 75 miljoen kyke binne die eerste 24 uur gekry.

Die Saoedi-Arabiese vlugteling Rahaf Mohammed het Twitter gebruik met die hutsmerk #SaveRahaf om na ʼn veilige plek in Kanada te verhuis. Sy het binne een dag 45 000 volgelinge gekry.

Ariana Grande (Foto: Instagram)

Ariana Grande het al drie topposisies op die Billboard Hot 100-lys beklee wat die eerste keer is dat ʼn kunstenaar dit kan doen sedert The Beatles. Sy is ook onlangs aangewys as die musikant met die meeste volgelinge op sosiale media.

The School Strikers het hutsmerke soos #FridaysforFuture en #SchoolStrike4Climate op sosiale media begin wat betogings aanlyn dryf wat fokus op die traagheid waarteen volwassenes teen klimaatverandering veg.

Liza Koshy het 17,9 miljoen volgelinge op Instagram, 14,1 miljoen op TikTok en meer as 17 miljoen op YouTube. Sy was al gasvrou van Vogue se glansryke Met Gala-rooitapyt en het al ʼn onderhoud met Barack Obama gedoen.

Brian Kolfage het deur ʼn skarefinansieringsplatform meer as $25 miljoen ingesamel om Trump te help om sy omstrede muur te bou.

James Charles (Foto: Instagram)

Die YouTube-ster James Charles is grootliks bekend daarvoor dat hy die eerste manlike ambassadeur van die grimering reeks Cover Girl is. Hy het meer as 15 miljoen volgelinge op YouTube.

Die hertog en hertogin van Sussex, prins Harry en Meghan Markle, se amptelike Instagram-rekening het meer as 1 miljoen volgelinge in die eerste ses ure gekry. Tans volg sowat 9,1 miljoen mense hul blad.

Germán Germendia is die wêreld se bekendste Spaanssprekende YouTube-ster met video’s wat al meer as 13 miljoen kyke gekry het.

Die kletsrymer Cardi B het meer as 47 miljoen volgelinge op Instagram.

Jojo Siwa (Foto: Instagram)

Chris Gofrey is bekend daarvoor dat hy die Instagram-blad World Record Egg opgestel het.

Carlos Maza is ʼn joernalis en vlogger wat uitgesproke is oor aanlyn teistering.

Zhang Dayi is China se prominentste sosiale figuur.

Die 16-jarige JoJo Siwa sing, dans en vlog op YouTube en TikTok. Haar liedjie “Boomerang” het reeds meer as 700 miljoen kyke.

Ben Shapiro is ʼn regse radio- en podsending-aanbieder en het die Daily Wire begin.

DrLupo is die wêreld se bekendste rekenaarspeletjiespeler. Hy speel rekenaarspeletjies om geld in te samel vir verskeie kwessies.

Jameela Jamil (Foto: Instagram)

Emma Chamberlain word beskryf as die belangrikste mens op die YouTube‑platform, waar sy 8 miljoen volgelinge het.

Hong Kong Protesters is ʼn beweging wat Hongkong se vryheid wil bewaar en dié veldtog word deur sosiale media georganiseer.

Die joernalis Yashar Ali breek gereeld nuus op sy Twitter-rekening aan sy 425 000 volgelinge.

Jada Pinkett Smith saam met haar ma, Adrienne en haar dogter, Willow (Foto: Instagram)

Aktrise Jameela Jamil is dalk meer bekend vir haar rol in The Good Place, maar op sosiale media is sy een van die invloedrykste figure wanneer dit by liggaamspositiwiteit kom.

Ady Barkan, wat in 2016 met Lou Gehrig se siekte gediagnoseer is, het besluit om te baklei vir mediese sorg vir almal. Hy word beskryf as een van die magtigste aktiviste in Amerika.

Jada Pinkett Smith is saam met haar dogter, Willow, en ma, Adrienne, die aanbieders van die program Red Table Talk, waar hulle sosiale kwessies bespreek. Die vroue bied elk hul verskillende sienings oor die kwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Wie gee nou werklik om oor die Internet se outjies en vroutjies wat nou kwansuis so kwaai “gelike” word! Bla-bla-bla. Herinner my nogal aan ons politiek ens = Groot Sir-kus!

Andreas ·

Ook maar lekker jaloers julle twee hier bo, reg of verkeerd, maar as ek so paar miljoen ‘likes’ op my Facebook blad kon kry, was ek nou skatryk sonder enige bekommernis.

Gena ·

Ek dink die enigste een wat rerig mag het op daai lys is Pres. Trump . Die ander is net “wanna bees”

Jax ·

As die pers ophou om hierdie mense se voerblad te wees, Sal hulle invloed drasties ingekort word. Weet wragties nie wat so spesiaal is oor hierdie mense dat dit so in ons keelgatte ingedruk word.
Vir hierdie mense gaan dit oor image, mag en geld – verseker nie vir die omgee en liefde vir ander nie. Regtig nou genoeg gehad van die pers dwars oor die aarde heen wat hierdie snert aan ons opdis.
Wat op aarde het bogenoemde berig nou eintlik waarde bygrdrae? Net nog blootstelling aan hierdie lui!

sweis ·

Ek kan nie glo dat Presedent Trump in die selfde artikel genoem word as die ander nie ,die beste leier in die wêreld, baie swak artikel

Stormrider ·

Die koue vanoggend beinvloed my meer as die 25 mense van wie ek net een ken! ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.