5 Minute met Carike Keuzenkamp

Carike Keuzenkamp en Burger Meyer

Sy is ʼn Afrikaanse legende en vanjaar het Carike Keuzenkamp ʼn Ghoema-toekenning ontvang vir Lewensbydrae. Sy het in 2010 ook ʼn SAMA-toekenning vir Lewensbydrae ontvang. Carike het ʼn draai in die ateljee kom maak, waar ons met haar gesels het oor haar loopbaan en ander Afrikaanse gunstelinge.

 Wat is die grootste les wat jy geleer het in jou loopbaan?
Doen wat vir jou lekker is. Moenie iets doen omdat jy weet dit gaan verkoop, maar dan is dit eintlik teen jou grein nie. Ek was in die gelukkige posisie dat ek dit so kon doen. Ek moes nie gesing het omdat ek myself moes onderhou nie, so dit help nogal.  Ek kon net sing omdat dit vir my lekker is. Dit is iets wat party van die ander mense nie kan doen nie, want hulle moet leef. Dit maak dat dit naderhand ʼn werk of ʼn las word.

Wat is die eerste ding wat jy doen as jy jou oë oopmaak in die oggend?
Ek trek die gordyne oop en ek sê vir die Here dankie vir nog ʼn pragtige, wonderlike en lekker dag wat voorlê.

Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord?
Dit is jammer Ghoempie is nie ʼn Afrikaanse woord nie [lag], maar ons kan dit altyd ʼn Afrikaanse woord maak! Ek sou sê ‘Kinders’.

Wie of wat is jou gunsteling Afrikaanse liedjie of musikant?
Meeste van Koos du Plessis se liedjies raak my. Dit is vir my baie mooi, soos ‘Skipskop’ en ‘Gebed’. Dit raak my nogal.

Wie of wat is jou gunsteling Afrikaanse boek of skrywer?
Dit is vir moeilik. As jy kyk staan meeste van my boeke langs my bed en dit is omdat daar nie meer plek in die huis is nie! Dit staan nou al in stapels. Ek koop amper elke Afrikaanse boek op die mark, want ek voel ʼn mens moet jou Afrikaanse skrywers ondersteun soos wat jy jou kunstenaars ondersteun wat musiek maak. Dan bly die bedryf aan die gang. Nie net daarvoor nie, ons het ongelooflike skrywers. Ek hou onsettend baie van André P. Brink. Ek hou ook van Deon Meyer, want ek hou nogal van spanningsverhale. Ek hou ook van Annelie Botes.

As jy nie opnames of video’s doen nie, wat doen jy as jy by die huis is?
Opnames en video maak miskien 10% van my lewe uit. Al die jare was ek ʼn huisvrou en ʼn ma en dit is eintlik ʼn voltydse werk. Dit sal vroue wat voltyds werk buite die huis ook vir jou sê: as hulle die aand by die huis kom, dan wag daar ʼn tweede werk vir hulle.  Ek was nogal baie betrokke by my kinders en my man se lewe, so ek was nog net altyd aan die gang. Daar is altyd iets om te doen, iets wat my besig hou.

Het jy enige stokperdjies waarvan niemand weet nie?
Ek dink mense weet dit, maar ek hou baie van lees. Ek lees onsettend baie. Ek brei so elke nou en dan, veral as ek voor die televisie sit en dink dis ʼn tydmors om net so te sit, dan brei ek sommer. Ek het in my jong dae baie gehou van ysskaats. Ek het dit lanklaas gewaag om op ʼn ysskaatsbaan te gaan, maar dit is iets waarvan ek baie sal hou.

Luister gerus na die volledige onderhoud met Carike in Allegaartjie 80.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.