60 jaar van “onbaatsugtigheid, kompromieë en vriendskap”

Gary en Vivienne op hul troudag in 1957 (Foto: Verskaf)

Gary en Vivienne op hul troudag in 1957 (Foto: Verskaf)

Die geheim tot ʼn lang en gelukkige huwelik is eenvoudig: Onbaatsugtigheid, kompromieë en vriendskap.

Só sê die legendariese gholfspeler Gary Player (81) nadat hy en sy vrou, Vivienne (80), onlangs weer hul huweliksbeloftes afgelê het. Dié twee is al 60 jaar getroud.

“Maar eintlik is daar geen geheim nie,” voeg hy vinnig by. “Trou met jou beste vriend, dan kan jy vir baie jare gelukkig wees.”

Die gholflegende en sy vrou het op Nuwejaarsdag dieselfde troubeloftes van 60 jaar gelede op Plettenbergbaai wéér aan mekaar beloof.

“Ek het haar daardie dag belowe om altyd by haar te staan en alles te doen wat nodig is om ʼn leeftyd met haar te deel. Ek het dit alles beloof in die goeie en die slegte tye, in gesondheid en in siekte en beloof om vir haar lief te bly solank as wat ons albei lewe,” sê hy.

Gary Player en sy vrou, Vivienne,  het na 60 jaar hul troubeloftes hernu (Foto: Verskaf)

Gary Player en sy vrou, Vivienne, het na 60 jaar hul troubeloftes hernu (Foto: Verskaf)

“En Vivienne sê ek het tot dusver ʼn baie goeie werk gedoen om daardie beloftes te hou wat ek daardie dag gemaak het.”

Player meen hy wou dié geleentheid met sy kinders en kleinkinders deel. “Ek is vandag liewer vir haar as die dag toe ek haar ontmoet het. My familie beteken die wêreld vir my, en ons wou ons beloftes hernu sodat ons kinders en kleinkinders daar kon wees. Ek het nog altyd gewens ek kon by my eie ouers se troue wees.”

Hy sê die egpaar sien uit na nóg gelukkige jare saam. “As jy ʼn perfekte vrou het, kan jy nie verkeerd gaan nie,” terg hy. “Ons is verhouding is van krag na krag. Geloof is vir ons baie belangrik en wedersydse respek is ewe belangrik. Hulle sê agter elke suksesvolle man is ʼn ewe bekwame vrou, maar agter elke suksesvolle professionele gholfspeler is ʼn buitengewone wonderlike vrou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Francie ·

Een van my trotste ontdekkings as klein dogtertjie was dat Gary Player ‘n Suid-Afrikaner is!
Hy het deur al die jare sy roem gestand gedoen deur die wonderlikste rolmodel te wees. Daar is so min sportmense waarop mens te alle tye trots kan wees.

Danie ·

Net jammer dat hulle so min regtig inspireer. Trou en skei het die grootste nasionale sport geword. Ek dink Suid-Afrika se egskedingsyfer is een van die hoogste in die wêreld. Moenie net trou nie. Maak seker die ander persoon is 50 jaar se saamlewe werd voordat jy trou of selfs verloof raak. En moenie die gaatjies opgebruik voor die tyd nie.

Elsie ·

Absolute pragtige verhaal! Wens so lewe is vir baie mense beskore sodat kinders weer in gelukkige huise kan grootword. Hoeveel ouers is ń voorbeeld vir hul kinders? Baie geluk Gary en vroulief! Ek beny julle maar gun dit als vir julle. Geniet wat voorlê ten volle

fritz breitenbach ·

pragtig Gary. ek wens ek het jou geaardheid gehad .

CHRISTA ·

Maggies! Hulle lyk so jonk op die foto! Dit lyk of hulle maar 13 jaar oud is!! Gary was altyd ‘n groot ‘gentleman’! Ek het die grootste respek vir hom. Net jammer al die ‘gentlemen’ sterf uit!!Ek hoop die nuwe geslag kan ‘n paar ‘tips’ by Gary kry!!

Rupert Ashford ·

Congratulations Mr & Mrs Player. Julle is voorwaar rolmodelle vir ons. Jy praat die waarheid Danie.

Jannie ·

Baie geluk julle twee. Wat ‘n uitmuntende paartjie. Dit was vir my so mooi om hulle op die paviljoen saam te sien tydens die 7s rugby wedstryd in Kaapstad. Ten spyte van Gary se lewenslange belangstelling in gholf, doen hy moeite om ook sy vrou te vergesel na waarin sy belang stel naamlik die 7s rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.