Adé vertel oor ‘geleende rok’ by Mej. Wêreld

Van Heerden (links) saam met Mej. Viëtnam en Chhillar (regs). Foto: Facebook

Suid-Afrika se Adé van Heerden (25) is vol lof vir die nuwe Mej. Wêreld nadat laasgenoemde vir haar ʼn rok geleen het nadat hare kort voor die kroningsaand geskeur het.

Van Heerden het Saterdag onder die tien mooistes geëindig en het in die uitdunrondes die “Beauty with a Purpose”-toekenning gewen. Manushi Chhillar, Mej. Indië, het met die kroon weggestap.

Van Heerden het gesê haar rok het tydens ʼn kleedrepetisie geskeur en dat dit nie herstel kon word nie. Chhillar het toe vir Van Heerden ʼn rok geleen. “Ek is met ʼn pragtige rok na die geleentheid gestuur, maar ek weet ook dat God op geheimsinnige maniere werk, en my geskeurde rok het ons die geleentheid gegee om die wêreld te wys dat sterk vroue mekaar werklik ondersteun.”

Van Heerden, wat in Maart vanjaar as eerste prinses in die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie aangewys is, het gesê dis ʼn oomblik wat haar vir altyd sal bybly. Sy het Chhillar as ʼn waardige wenner beskryf. “Ek is trots op jou en opgewonde vir die jaar wat vir jou voorlê. Ek weet jy sal voortgaan om ʼn baken van hoop vir talle te wees.”

Van Heerden het ook gesê sy het haar beste gedoen. “Elke tree wat ek gegee het, het ek met trots gegee in die wete dat ek my bes gedoen het. Ek hoop dat ek geïnspireer het, liefgehad het en goedhartigheid gewys het.”

Van Heerden het gesê sy hoop Suid-Afrika is so trots op haar as wat sy op haarself voel. “Ek is nou op pad huis toe met ʼn hart vol dankbaarheid, met die wete dat ek die geleentheid gehad het om te groei, te lei en te motiveer. Die geleentheid om jong vroue te wys dat hulle ʼn doel het en dat hulle alles deur harde werk kan bereik.”

Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Suid-Afrika, neem op 26 November in Las Vegas in die VSA aan die Mej. Heelal-kompetisie deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jane ·

Baie mooi gebaar, ek kan egter nie glo dat iemand na ‘n wereldkompetisie toe gaan slegs met een rok per geleentheid nie? Enigiets kan mos gebeur? Dit kan ‘n vlek op kry of dit kan skeur .. hoekom was Mej Indie voorberei en nie Me. Suid Afrika nie? Seker maar net nog ‘n refleksie op SA. Baie geluk egter aan haar met haar prestasie .. sit maar volgende keer nog ‘n ekstra rokkie in die tas.

CJ ·

Jane. Ek kry die indruk dat jndien jy daar was, sou jy nie jou rok aan Adé geleen het nie. Dit sou nou ‘n refleksie op Suid-Afrika gewees het! Goed gedoen, Adé en Mej Indië!

Nee CJ ·

Nee CJ ek sou nie my rok geleen het vir haar nie, dit sou haar nie pas nie, dit sou bietjie KLEIN vir haar gewees het.

@ CJ ·

Nee my rokkie sou te KLEIN vir haar gewees het, ek sou dit nie kon uitleen nie, jammer.

Rina Kotze ·

Baie dankie vir die mooi gebaar, Mej Indië!

Ek dink dit verpletter ook die illussie dat die meisies partykeer maar katterig kan wees!

Ek glo dis ‘n nuwe geslag skoonhede wat inteligent is en wat deernis het!

en dit maak hulle net NOG MOOIER, want dit kom van binne af!!!

Mag dag nog vele sulke gevalle wees!

Dankie Adé, jy het SA en jou eie naam hooggehou!

Landi ·

Ek stem saam, dis n baie mooi gebaar maar ook dat ek voel geen meisie gaan na so n geleentheid met net een rok nie. Ek kan nie dink dat daar geen ontwerper in SA is wat vir so n pragtige jong dame n rok sou sponsor nie. Net vir die wis en onwis

Jane ·

Ja dankie tog, ‘n vrou met verstand, kan nie glo die mense sien nie die moontlike KRISIS wat hier kon ontstaan het indien me. Indie nie haar rok aan me. SA geleen het nie. Wees tog nou prakties mans, en kyk verby die gesiggie en dink waar sy sou gewees het as sy NIE ‘n rokkie gekry het nie … dis seker nie te veel gevra om ‘n EKSTRA rokkie in te sit nie .. die ontwerpers staan gewoonlik in RYE om vir die dames rokke te ontwerp .. dit sou haar niks gekos het nie … SWAK BEPLANNING !!

Leoni ·

Grootste verskil is dat dit deur 2 verskillende organisasies gereel word .. Miss Universe word gereel deur Donald Trump and NBC. En ‘n Brit , Eric Morley doen die Miss World Organisation, in samewerking met sy vrou , Julia .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.